Geestelike Gevare van Facebook


Koot van Wyk (DLitt et Phil, ThD) Besoekende Professor, Departement van Bevrydende Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju, Suid-Korea, Medeaangehegte lektor vir Avondale Kollege, Australie.


Is dit nie so dat die tydsgees het almal oorsee, veral in Noord Amerika, Austalië en Europa, miskien ook Engeland, omhels, en die Adventis weet nie hoe om uit die kloue te kom nie want hulle besef nie hulle is vasgegryp nie. Die denke is dat hulle self selektief en sinvol gekies het om te glo soos hulle glo of uit te druk die wyse waarop hulle hulself bewoord.

Het ons nie ʼn skuif gemaak van idees gebaseer op verstandelike sinvolheid wat redelik en reg lyk binne die teks van die Bybel na idees wat gebaseer is op gevoel en hou van/nie hou van uitgedruk in ʼn kortbondige “twitter styl”. Ons lees nie meer nie, ons kyk. Ons is gewoond om kennis op te doen deesdae met hoofopskrifte want die inligting’s ontploffing is te groot vir ons brein.

So wat gebeur is dat daar die skuif van Platonisme na Aristotelianisme is, van idees in die denke na idees vanuit die ervaring en gevoelswêreld, van reg dink is reg na lekker geniet is reg.

Die gevaar van Facebook vir die navorser is dat Facebook, myns insiens, ʼn afleipyp is van die lees-funksies noodsaaklik vir die uitpakking en inpakking van ʼn behoorlike navorsing. Dit trek die aandag weg van die oorspronklike doel en die fokus verskuif van ʼn uitsortering van idees deur lees na ʼn giggelende genieting van kyk, springende van foto tot foto, want elke foto is ʼn “klein wereld” op sy eie met kortbondigheid van gedagtes die sleutel. Hierdie inryging van dié prentjies-krale in ʼn string in die gedagtes, het die slotsom van ʼn lekker tydversmorsing met ʼn leë brein. Dié wêreld-toer is té groot en té lank vir die brein. Die gevoel is beter, of lekker, maar kortstondig want die kyker moet na ʼn uur opstaan om kos te gaan maak of dorp toe te gaan of in die tuin te gaan werk, al drie dinge wat nodig en goed is om te doen, maar wat die kyker nie meer ʼn leser maak nie, dus is die brein ondervoed en kwynend.

Die opsigtelikheid en paraatheid wat vereis word om die skewe raak te sien is verlore. Hoekom? Want wat reg is neem leestyd en nadenkendheid om perspektief te voed. As mens nie lank genoeg met die regte werk nie ken mens nie die regte óf die verkeerde nie. Mens word neutraal of selfs téén die regte, sonder dat mens dit besef. Mens kan dit nie besef nie want die perspektief ontbreek.

Ons jeug byvoorbeeld wat nie geskiedenis lees nie, nie pionierswerke deurwerk nie, nie tyd spandeer om te verstaan hoekom ons as Adventiste sê wat ons sê nie, kom op ʼn punt dat hulle een artikel terloops lees aanlyn en dan skielik wil “verstaan” sonder agtergrond, sonder fondamente, sonder enige navigasie-kaart in die brein. Ons praat van ʼn mentale paraatheid wat afwesig is.

Welkom in die spasie van die digitale moderne mens.

Hierdie is die laaste generasie. Daar kan nie ʼn ander generasie wees wat post-digitaal kan wees nie. Die sogenaamde 3D virtuele realiteit van sekere speletjies wat tans ontwerp word, gaan die mens net meer intrek in die beeld. Dit is dus die Einde van Tyd. Hierdie kennisvermeerdering (maar nie noodwendig wysheidvermeerdering nie), was voorspel deur Daniel 12:4 as ʼn teken van die Einde van Tyd. Dit is profeties en logies die Einde van Tyd. God het die digitale moderniteit gelaat vir laaste, om aan die hemelinge te toon, dat ten spyte van die verleidende effek van “beeld magnetisme” op die brein, daar tóg mense sal wees wat nie verlore wil gaan nie, nie skeef wil groei nie.

As dit nie was dat so baie breine dink die Bybel is vasgevang in sy eie verlede wêrelde nie, sou hulle kon sien hoe die profete en Jesus in die Teks, ons eie dag se gebeure ingepak het. Maar hulle kommunikeer horisontaal met mekaar en nie omhoog nie. Mensverbintenisheid en eie-ouderdomsgroep gehegdheid, is ál wat saakmaak. Dit kan ook nie anders nie, want ironies raak die mens eintlik meer eensaam as tevore.

Dié kyk-mens se waardes het ook geskuif. Die gewilligheid om te luister na iemand wat praat het nou te doen met ooglikheid: is die persoon aantreklik of mooi; is die persoon my ouderdom of jonger; word daar meer ervaring gedeel of is dit die “ou denktrajek”? Die denk analises is nie meer populêr nie want hulle werk nie meer daarmee nie. Ons is terug by die begin. Omdat hulle spring van foto na foto en twitter-sinnetjie na twitter-sinnetjie, “hier ʼn reël, daar ʼn reël” sê Jesaja, daarom het hulle ʼn gebrek aan kennis. Die Woord van God het ʼn geestelike hongerte gebring in ʼn tyd wat die Woord, ironies genoeg, meer beskikbaar is as ooit in die geskiedenis van die wereld.

n Vriend van my het sy kinders in Michigan probeer “omdraai” of “oriënteer” met ʼn paraatmaking’s poging. Hy het hulle $1000 aangebied elkeen as hulle Die Groot Stryd Reeks van Ellen White deurlees. Hulle moet verskillende kleure gebruik om bewys te gee dat hulle die teks deurgewerk het. Sy kinders is tans betrokke by Jeug uitreik programme in die kerk. Die belegging het gewerk.

As ons die digitaal opsyskuif en wegbeweeg van beeldoorheersing na teksomhelsing, sal daar ʼn kognitiewe skuif in die brein plaasvind wat die perpektief oriënteering oor die gevoelsoriëntering sal plaas en groot gevolge sal meebring.

As mens té veel TV kyk of té veel met die foon kliek, of té veel Facebook betrokke is, dan veroorsaak dié opperheerskappy van beeld oor teks dat die brein verarm in gedagtes en nie leidend is nie, meer gedissipeleer is of volgend is van ander mense se idees en sieninge. ʼn Besluit om die beeld ondergeskik te maak is moeilik in die begin maar die resultaat is dat die teks die beeld oorheers en die gevolg is, kyker word weer leser, en ʼn produktiwiteit in navorsing, perspektief-uitbouing, ʼn verstaan van baie dinge, ʼn ontdekking van die profetiese waarhede, ʼn ondersteuning van die pioniers’ sieninge wat nie gewerk het met digitale beelde nie, kom na vore.

End item

 

Ander bronne oor die gevare van Beeld oor Teks oorheersing:

G. Liang, “PowerPoint Is Evil” Edward Tufte Magazine 9 January 2003. Aanlyn geraadpleeg by http://www.wired.com/2003/09/ppt2/

Eduard Tufte is ʼn professor emeritus en is volgens die New York Times die Leonardo da Vinci en Galileo van Grafiese ontledinge. Sy boeke sluit in: Visual and Statistical thinking (1983), The Cognitive Style of Powerpoint, Visual Display of Quantitative Information, Envisioning Information, Visual Explanations, and Beautiful Evidence.

Tufte was een van die Columbia Ruimtetuig ontleders van Powerpoint en sy slotsom was dat die Columbia Ruimtetuig het ontplof omdat navorsers te veel waarde geheg het aan Powerpoint en nie aan referate deur Microsoft nie.

E. Tufte, “PowerPoint Does Rocket Science: Assessing the Quality and Credibility of Technical Reports” Aanlyn geraadpleeg op die 18de Augustus  2016 by http://www.edwardtufte.com/bboard/q-and-a-fetch-msg?msg_id=0001yB.

PowerPoint is ʼn quasi beeld-teks program omdat dit beeld is wat die indruk gee dat dit teks is. Ek is tans besig om navorsing oor die waarde van PowerPoint te doen.