Regverdiging deur die Geloof deur Anti-Reformistiese Katolieke vergelyk met Adventiste


Koot van Wyk (DLitt et Phil; ThD) Besoekende Professor by die Departement Bevrydende Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju Kampus, Suid Korea, Medeaangehegde lektor vir Avondale Kollege, Australie.


ʼn Klomp Katolieke het besluit om ʼn vergadering te hou want die Jermans het die hele wêreld op hol. Die Pous sit toe die bal aan die rol dat hulle die reinheid en waarheid van die Christelike geloof moet verdedig want donkertes van dwaalleer het nou al vir soveel jare die aarde bedek dat die katolieke liggie, wat die ware lig is, sê hy, in glansende reinheid weer kan uitstraal. Toe loop die kardinale en biskopppe van verskeie lande en kom saam by die Raad van Trente. Almal het ʼn eier te lê gehad oor die onderwerp van regverdiging deur die geloof. Daar was Fransiskane, Dominikane, Karmeliete, Augustyne, Jesuïte maar die Fransiskane was in die meerderheid. Sieninge is toe vir maande aangebied deur die geleerdes en elkeen het ʼn kans gehad om sy sê te sê. 104 van hulle het byeengekom. Maar dit sou nie by 104 bly nie, want humeure het te hoog geloop. Soos die geval van die biskop B. von La Cava wat opgestaan het en gesê het hy wil ook ʼn stuiwer in die beurs gooi. Kyk, regverdiging is alleen deur die geloof, het hy ewe oortuigend gesê. Het hy geslaap in die vergadering en nou net wakker geword? B. von Chiron skrou toe vir hom dat hy ʼn droster is en ʼn Lutheriet. Von La Cava word rooi in die gesig en hulle wil mekaar net te lyf gaan. Toe besluit die glurende kardinale en biskoppe, Von La Cava is “out of step” en hy kan maar sy goedjies pak en klooster toe gaan. Hy is nie meer nodig nie. ‘Snork voort met julle gekonkel maar los my uit’ en hy is toe terug klooster toe. Dit is nie maklik om ʼn droster te wees in daardie kerk nie en ons word nie gesê wat van hom geword het nie, maar die Heilige Strafboek gepubliseer in Ellen White se dae, gee die volgende moontlikhede nadat hulle die geskiedenis deursoek het: “In ons kerk is daar nie so iets soos bloedstraf nie maar ons verban, gee dwangarbeid, vaskettinging, toegesluitheid in ʼn klooster, gevangenis, pak slae, geld uithaal en wys, konfiskasie, brandmerk, ens.” Dit was nag vir die hoenders vir Von La Cava. Onse hemelse Vader sou die goedige katoliek seën. Hy was in die meerderheid en het dit net nie geweet nie. Biskop Claudius Jajus sê toe dat hulle gerus die toom kan inhou. Hy het die Skrifte en die Vaders nagte deurgeworstel en sy elboë het skoon eelte, maar dat hy tot die slotsom gekom het dat die regverdige sal deur die genade van God gehoorsaam wees en uit liefde die gebooie van God hou. Tog is Gods genade nodig om ons te help om Sy gebooie te onderhou. Een biskop het gesê as hulle die Protestante die loef wil inloop moet hulle hul boeke lees so ʼn ander biskop het later per brief laat weet dat hy al die boeke wat hy van Luther kon kry aangestuur het vir studie. Luther was oortuig van sy evangelie oorsprong en in 1537 sê hy in die Schmalkaldener Artikel op Geloof en Werke dat hiervan weet die Pous, teoloë en Juriste nog maar bra min, maar dit is ʼn leer uit die hemel deur die Evangelie geopenbaar en as mens vir kettery soek moet mens by die goddelose Heiliges begin. Die Raadgangers begin hul opsomming toe met, soos hulle dit in die voorwoord stel, ʼn wetlike versameling in die Heilige Gees in die naam van ons mees geheiligde vader en heer in Christus, Paulus II. Wat in die Hemel begin eindig op aarde in die sin. Hulle onderneem met die skryfstuk dat dit verbode sal wees om van nou af te glo, preek, en leer as dít wat in die skrywe vasgelê is. In Hoofstuk I sê hulle dat alhoewel hulle in Adam hul onskuld verloor het en erfsonde gekry het, het hulle nie hul wil, gebuig soos dit is, verloor nie. In Hoostuk III sê hulle dat tensy iemand nie weergebore word nie kan die persoon nie geregverdig word nie. In Hoostuk V sê dit dat deur sy aanporrende genade gee Hy hulp om hulself weer te laat gebore te word deur hul eie regverdiging deurdat hulle op ʼn vrye manier saamwerk met die genade. Adventiste verstaan dat die weergeborenheid deur die Gees se operasie plaasvind en die ou hart uitgesny word en ʼn nuwe hart ingeplaas word, die wet geskryf word op die tafel van die hart. Wanneer die biskoppe bid “laat ons weergebore wees en dan is ons” dan meen hulle God verhinder hulle om weergebore te wees. Verhindering is nie deel van Adventiste se model nie. God verhinder niemand nie wanneer dit by verlossing kom nie. ʼn Oulike stelling is Hoofstuk VI gedeeltelik dat die een wat regverdig wil wees moet voorneem om gedoop te word en ʼn nuwe lewe begin en om die Wet van God te onderhou. In Hoostuk VII wil hulle die punt maak dat sakramentele besprinkeling of doop, soos hulle dit doen, is die enigste pad na regverdiging. Adventiste besprinkel nie. As jy jou biskuit in die tee doop dan is dit totaal in. Mens druk nie jou vingers in die teekoppie en besprinkel die beskuit nie en noem dit ‘doop’ nie. In Hoofstuk IX is hulle teen goedkoop genade. Jy kan nie sê ek is verlos nie en klou aan jou sondes nie. Adventiste is op dieselfde bladsy hier. In Hoofstuk X wil hul aandui dat die Apostel Paulus gesê het dat deur die liggaam te onderwerp aan heiligmaking deur die onderhouing van die Tien Gebooie en Kerk, werk geloof saam met goeie werke en word die persoon verder geregverdig. ʼn Oulike punt wat Adventiste sal onderstreep is in Hoofstuk XI wat sê dat niemand wat geregverdig is moet dink dat hy verskoon is van die onderhouding van die Tien Gebooie nie. Ons is hier op die 13de Januarie 1547 en dit is die Konsilie van Trente se reels oor Regverdiging deur Geloof. Dit is die Katolieke se poging om die Protestante hervorming te kortwiek en te verhinder dat skape draadspring. Niemand moet sê dat die onderhouding van die Tien Gebooie is onmoontlik vir die een wat geregverdig is nie, want, God se opdragte is nie onmoontlik om gehou te word nie. Hy sal jou nie laat bid vir iets wat jy nie kan doen nie en verder, Hy voorsien hulp sodat jy bemagtig is. Ai, maar dit is vir jou mooi Adventisme hier uit die mond van die eerste dier van Openbaring 13. Die wat hom lief het, sê die Katolieke hier in Hoofstuk XI, sal Sy gebooie onderhou, soos wat Christus self getuig. Sowaar, met heilige hulp kan hulle die wet onderhou. Gee so mond sommer heelwat vyekonfyt. Is dit nie waar nie? Dan maak hulle nie sin nie, want hulle sê dat iemand wat val of sondig nadat hulle geregverdig is hou nie op om geregverdig te wees nie. Hier haal Adventiste ʼn rooi kaart uit. Was dit nie Augustinus wat gese het, ‘Here help my sondig sodat ek meer genade kan kry’ nie? ʼn Skewe opmerking van hom en snaaks, die Katolieke hou baie van Augustinus. Die biskoppe sê toe dat daar nie soiets is dat deur geloof alleen verlossing gewaarborg is nie. Ook hier sal Adventiste ʼn rooi kaart uithaal. Hoofstuk XI is gemeng met waarheid en valshede. Hulle verwys na Petrus wat gesê het dat mens meer moet verrig om uitverkiesing te bevestig. Teen die Kalvyne gooi die biskoppe wal in Hoofstuk XII. Hulle sê dat niemand moet dink dat deur die Uitverkiesingsleer hy/sy verseker kan weet of hulle gered is nie, tensy daar ʼn spesiale openbaring was. Mens kan nie dink dat mens nie meer kan sondig nie na regverdiging nie. Adventiste is ook eens hier dat daar nie soiets is soos ‘eenmaal gered altyd gered’ nie. In Hoofstuk XIII waarsku hulle almal wat weergebore is om nie te dink hulle staan nie, want hulle kan val en daarom met vrees en bewing moet hulle hul verlossing uitwerk in goeie werke, bewaking, barmhartigheid’s gawes, gebed, offerandes, vas en moreel skoon te bly, omdat hulle weet dat hulle weergebore is vir die hoop op glorie maar nog nie die glorie het nie en dus die werke van die vlees moet teenstaan omdat hulle leef in die duiwel se wêreld en nie oorwinnend kan wees sonder God’s genade nie. Hoofstuk XIV vertel dat tydelike straf mag ondervind word deur die wat ondankbaar is vir God’s genade en die Heilige Gees bedroef het en ook die liggaam as tempel van God geskaad het. In Hoofstuk XV sê hulle dat die leerstelling van die Heilige Wet van God sluit uit die koninkryk van God nie net die ongelowige nie maar ook hoere, egbrekers, [LBTGQ] of die “vroulike nabootsers,” leuenaars, diewe, dronkaards, begeerlikes, stelers deur geweld en almal wat dodelike sondes gedoen het. Net om seker te maak dat almal weet wat om na te volg en wat om te vermy, het hulle ʼn reeks Kanonieke reëls gelys. Kanon 1: Enigeeen wat se dat mens regverdig kan wees deur jou eie werke, of deur die menslike natuur of wet, sonder die hulp van God’s genade, is verkeerd. Kanon 2: Om te sê dat God’s genade is slegs gegee om mens makliker te laat leef en regverdig en om die ewige lewe te verdien met die vrye wil sonder genade, is verkeerd. Kanon 3: As iemand sê dat hy regverdig kan wees sonder die hulpvaardige vooraf inspirasie van die Heilige Gees, is hy verkeerd. Sover sê elke Adventis, nee maar laat ons hoor. Kanon 4: As iemand dink dat die vrye wil van die mens is beweeg en opgewek deur God en dat die mens slegs passief navolg en nie koöperatief is nie, dat hy/sy nie die genade kan weerstaan of verwerp nie, is hy verkeerd. Adventiste gee steeds ʼn groen kaart vir die mooi reëls. Kanon 5: As iemand sê dat die vrye wil is slegs ʼn label, slegs in naam maar nie in realiteit nie en dat die mooi woorde deur Satan en die Kerk uitgedink is of ingevoer is, is hy verkeerd. Nog ʼn groen kaart van die Adventiste vir die mooi reël. Kanon 6: Dat selfs bose werke deur God gewerk word, is hulle verkeerd. Natuurlik, sê alle Adventiste. Kanon 7: Dat alle goeie werke van die mens is nie vuil fodde nie en dat selfs die goeie werke, wat mense doen voor regverdiging is eintlik sondig want hoe meer iemand begeer om genade te verkry, hoe meer verloor hy/sy dit, sal verkeerd wees. Adventiste erken dat God nie goeie werke van wie ookal miskyk nie want Adventiste voel die mense bly binne die perke van God’s wet en dit is deur die wet wat mense geoordeel word. Daar is liberale Adventiste wat deur Reformatore se kommentare oortuig geword het dat alle mense niks goeds voor God kan doen nie en daar is ʼn teks in Jesaja wat aangehaal word vir die beskrywing. Hulle interpreteer miskien die verband ietwat uit. God sal nooit die goeie werke van enigeeen oorsien nie. Dit is wat Hy begeer. Is dit nie? Kanon 8: As iemand sê dit is verkeerd om ʼn hel en swael preek te preek sodat ons na die genade van God kan vlug, dit is nie korrek nie. Adventiste stem hiermee saam. Niemand is nog gered net omdat hulle die hel vrees nie, soos die Reformatore sê, maar gelyklopend met die Katolieke moet ons sê dat as hulle deur die hel prentjie by God se deur aanklop vir verlossing, het hulle dit. Kanon 9: As iemand sê dat iemand sola fide slegs deur geloof gered word sonder dat iets anders nodig is en dat sy vrye wil nie eers voorberei moet word deur die Gees nie, is hy verkeerd. Adventiste erken geloof alleen nie omdat hulle die Gees se werking ontken nie maar omdat die vrye wil en geloof een pakket is vir die sondaar na verlossing. Die Gees sal nie die wil beïnvloed nie en einaarskap van die geloof is die persoon s’n daarom is verlossing slegs deur die geloof soos die hervormers probeer sê het. Miskien sal Adventiste hier n rooi kaart uithaal. Kanon 10: As iemand sê dat mense regverdig kan wees sonder die beregting van Christus is hulle verkeerd. Adventiste praat saam hier. Kanon 11: As iemand sê dat dit slegs die toebedekte regverdigheid van Christus is wat mens regverdig, slegs met die vergifnis van sonde, sonder die toebedeelde genade wat in die hart gestort word deur die Heilige Gees en wat inherent word, dan is hy verkeerd. Adventiste sal sê dat die puntenerigheid of die fyn verdeling van die aspekte hier onnodig en kunsmatig verkeerd is, want die aspekte is nie opvolgend in orde aanwesig nie maar ʼn proses wat in sy geheel besig is en aanvang neem en sou ʼn persoon sterf voor die einde van die proses is die persoon steeds regverdig al het hy nie ʼn kans tot volwassenheid van die heiligmaking gehad nie. Byvoorbeeld die dief aan die kruis. Nie waar nie? Kanon 12: As iemand sê dat regverdiging is selgs ʼn vertroue in die heilige Genade van God en dat hierdie vertroue is al wat nodig is vir verlossing, dan is hy/sy verkeerd. Adventiste sal ʼn rooi kaart hier gee. Om op God te vertrou is al wat nodig is om regverdig te wees. Al die gawes van die hemel sal spring om te red. ʼn Eenvoudige gebed van twee sinne of selfs een soos die dief aan die kruis, is voldoende. Kanon 13: Enigeeen wat sê dat mens oortuig moet wees sonder huiwer dat sy sondes vergewe is, is verkeerd. Rooi kaart is uitgehaal vir die Katolieke deur Adventiste met die reël. Kanon 14: Iemand wat dink dat omdat hy glo dat hy vergewe is, is hy/sy werklik vergewe, en deur die denke is sy regverdiging bewerkstellig, is verkeerd. Adventiste antwoord dat die onseker aspek vanselfsprekend is maar vertroue soos Abraham gehad het met sy antwoord aan Izak: dat God self sal voorsien, is hier in gedagte, dus sal die Katolieke van die Adventiste ʼn rooi kaart kry hier. Kanon 15: Iemand wat sê dat die weergeborene en regverdige kan deur die geloof verseker wees dat hy uitverkies is, is verkeerd. Weereens sal Adventiste ʼn rooi kaart uithaal vir hul beslissing hier. Almal wat uiteindelik wil glo, sal uitverkies wees. Die getal is nie vasgestel of gebaken deur God nie. Nie die getal nie maar die voorwaarde tot verlossing is vasgestel. Kanon 16: As so ʼn versekerde vertrouer dink hy het regverdigheid maar meer nog, ook die volharding tot die einde toe as gawe, is hy verkeerd. Adventiste sal ʼn groen kaart gee hier en saamstem. Volharding is ʼn daaglikse oorgawe aan God en ʼn gedurige verhouding tot die end, dit is nie ʼn eenmalige gawe nie. Kanon 17: Om te sê dat slegs die wat uitverkies is deur God ontvang genade vir verlossing maar dat ander wel geroep is maar nie uitverkies is nie en dus die bose sal wees, is verkeerd. Adventiste sal saamstem met Katolieke hier oor die verwerping van die leerstelling van die Kalvyne. Kanon 18: As iemand sê dat die Gebooie van God is onmoontlik vir iemand om te onderhou, selfs met genade, is die persoon verkeerd. Adventiste glimlag tevrede oor die reël. Kanon 19: As iemand sê dat slegs geloof nodig is en dat enige ander saak is nie gevra of verbied nie maar dat mens vry is selfs van die Gebooie van God want dit is nie vir Christene nie, [slegs vir Jode], is hy/sy verkeerd. Adventiste gee ʼn groen kaart hier. Kanon 20: Iemand wat sê dat ʼn regverdige, ongeag hoe volmaak hy is, is nie verplig om die Tien Gebooie te onderhou nie omdat hy deur die Evangelie die verlossing ontvang het, is hy verkeerd. Adventiste gee ʼn groen kaart, nie waar nie? Kanon 21: Dat Christus was slegs gegee as ʼn Verlosser om te vertrou en nie ook as ʼn Wetgewer om te gehoorsaam nie, is verkeerd. Adventiste se groen kaart lê al klaar reg. Kanon 22: Dat die regverdige in staat is om te bestaan sonder spesiale hulp van God, is ʼn verkeerde seining. Adventiste stem hiermee saam. Kanon 23: As iemand sê, ‘eenmaal gered altyd gered’ en dat as iemand val of sondig was hy nooit werklik regverdig nie, of dat iemand in staat is om sondes volmaak te vermy, is hy/sy verkeerd. Adventiste sal ʼn rooi kaart gee hier oor die laaste sinne in die Kanon wat sê dat hulle wel so ʼn ‘eenmaal gered altyd gered’ toelaat as daar ʼn spesiale openbaring van God was of dat die Kerk hulle toelaat deur die Maagd Maria. Andersins vir die korrekte in die eerste gedeelte, sal Adventiste hier ʼn kaart kleur gee volgens die invloed wat Reformatistiese teologie op hulle het. Romeine 7 is die krisis of dit Paulus of Saulus is wat praat en net soveel teoloë kies Paulus as die wat Saulus kies. Dis belangrik want dit bepaal of mens volmaak kan wees na regverdiging of nie. Job was volmaak en so was Henog. Sal ons sê volmaak in toewyding maar nie noodwendig in kwaliteit van dade nie? Sommige Adventiste sal sê mens kan volmaak wees voor die Wederkoms en ander sal sê mens kannie. Dit is waaroor die Ford petalje gegaan het in die 1970’s in Adventisme. Die boek Perfection in daardie jare het vier standpunte in Adventisme verduidelik: twee met Reformatoriese klemme, E. Heppenstall en H. La Rondelle en twee Volmaaktheid beklemmers, byvoorbeeld M. Maxwell en H. Douglas. Die waarheid lê miskien nie ʼn polariteit van die standpunte nie, maar in almal, al klink dit soms of hulle by mekaar verbypraat. By Helderberg Kollege was dit byvoorbeeld die sienings van Izak van Zyl teenoor Smuts van Rooyen. Weens die diskoers-koors wat oor die wereld gebroei het, en as student van beide, het ek tot die slotsom gekom dat hulle eintlik by mekaar verbypraat en verskillend klink, maar nie werklik is nie. Al wil hulle ook voorgee huidiglik (of in die verlede) hulle is nie eens meet mekaar se idees nie. Dit hang af waarna mens kyk en vanwaar mens die vertrekpunt van ondersoek maak. Kanon 24: As iemand sê dat die regverdigheid is staties en eenmaal gegee en dat God nie kan toevoeg of dit onderhou nie omdat die goeie werke slegs ʼn vrug is van die regverdigheid maar goeie werke nie die regverdigheid kan vermeerder of bydra daartoe nie, is hy of sy verkeerd. Adventiste erken die beginsel van sola Christi wanneer dit kom by die sola fide en sola gratia. Bydrae is nie nodig nie. Die beginpunt van verlossing is sonder mens se hulp. Kanon 25 kom weer terug na ʼn punt wat hulle reeds gemaak het, naamlik dat as iemand sê dat elke goeie werk is sondig in elk geval, is hulle verkeerd. Adventiste kan antwoord dat dit waar is dat daar baie mense is wat goeie werke doen blykens sonder Christus of God omdat hulle ander gelowe aanhang, selfs panteisme, maar doen hulle dit om geëer of gesien te word? Is daar selfsugtige redes vir die goeie dade? Dan is ons terug by Satan want dit was wat hy gedoen het. Opportunisme met die goeie dade, kleur ongelukkig die goeie dade want die Bybel beginsel is dat mens se regte hand moet nie weet wat die linker hand doen nie. Nie waar nie? Kanon 26: As iemand voel dat dit verkeerd is van enigeen om te dink sy goeie werke kan hom die ewige lewe gee of beloning van God, is hy verkeerd. Miskien sal Adventiste n rooi kaart gee hier as gevolg van die Rooi kaart in Kanon 25. Kanon 27: is terug by die ‘eenmaal gered altyd gered’ storie want dit sê as iemand dink dat as hy eenmaal die genade verloor het deur sonde of dat geloof daarmee ook verloor is of aan die ander kant dat hy genade ontvang het sonder ʼn lewende geloof of ʼn ware geloof, en tog nog gered sal word, in beide gevalle is hulle verkeerd. Adventiste stem saam oor die tweede ‘goedkoop genade’ teenvoeter maar die eerste een wil miskien die verlossingmasjien té kunsmatig sny. Kanon 29: As iemand dink dat iemand wat geval het na die Doop kan nie weer deur God’s genade gered word nie, of dat hy herstel kan word sola fide slegs geloof sonder boetedoening by die priester teen wat die Roomse Katolieke leer, is dit verkeerd. Adventiste gee ʼn groen kaart vir die eerste sinfrase maar nie vir die tweede helfte na die /of/ nie. Hulle kry ʼn rooi kaart daarvoor. Kanon 30: As iemand sê dat regverdiging is die einde van die persoon se skuld en dat die persoon nie meer geboet sal word met die verderf nie, is die persoon verkeerd. Adventiste gee ʼn rooi kaart hier. Kanon 31: is weer ʼn terugkom dat dit verkeerd is as iemand se dat goeie werke kan nie mens se hemelse beloning koop nie. Kanon 32: is weer ʼn herhaling van wat reeds vooraf gesêis dat as iemand sê dat goeie werke wat die weergebore en regverdige doen, kan nie sy of haar regverdigheid verhoog of verbeter nie, is die persoon verkeerd. Adventiste gee ʼn rooi kaart hier want Christus se deel in die Regverdigverklaring is Sy deel en nie ons deel nie en Regverdigmaking is ons deel saam met Hom.  

Die Lutherane en ander Protestant-genoodskappe het besluit om die profesieë te vervul en hande te vat met die Dier van Openbaring 13 en verwonderd agter hom aan te dros. Hulle wil Ekumenisme aanpor en verwelkom. Hulle het ook die dokument wat ons so pas deurgewerk het geneem en besluit dat die katolieke vir elke punt ʼn groen kaart gegee moes gewees het en dat hulle omverskoning moet vra vir Luther en Kalvyn se onbeholpenheid. As mens die groen en rooi kaarte tel wat Adventiste vir die siening van Katolieke sal gee vir hul standpunt teen die Reformatore Luther en Calvyn en ander in die Konsilie van Trente, dan is dit onmoontlik vir ʼn goeie Adventis om te gaan saampraat met die wat bereid is om met oogklappe saam te sit.

 

Bronne:

Hefner, J. Die Entstehungsgeschichte des Trienter Rechtfertigungsdekretes (Paderborn, 1909), 297-328. Retrieved on 10th of September 2016 at https://babel.hathitrust.org/cgi/pt?id=hvd.hnum7l;view=1up;seq

 

Stakemeier, E. “Die theologischen Schulen auf dem Trienter Konzil während der Rechtfertigungsverhandlungen. In:  Theolgische Quartalschrift 1936: 117 (1936): 188—207; 322—350; 466--504.

 

Heynck, V. “A Controversy at the Council of Trent Concerning the Doctrine of Duns Scotus” Franciscan Studies Vol. 9/3 (September 1949): 181-258.

 

D. C. Mirbt, Quellen zur Geschichte des Papsttums und des Römischen Katholizismus (Tübingen: J. C. B. Mohr, 1911 3rd edition). 214-222.