Cuneiform  Studies

Egskeiding volgens die Ou Spykerreg

 

Koot van Wyk (DLitt et Phil; ThD)

Besoekende Professor

Kyungpook Nasionale Universiteit

Sangju Kampus

Suid Korea

Medeaangehegde Lektor vir Avondale Kollege

Australie

8 Januarie 2012

 

           Egskeidingswette in die moderne tyd het verander met ʼn regskomissie in 1975 in Suid-Afrika wat besluit het dat die ou egskeidings-gronde ʼn sekondere rol gegee word en dat twee beginsels egskeiding primêr voortaan moet reguleer: toestemming en onherstelbare verbrokkeling. Die ou egskeidingswet het gronde vir egskeiding gelys as: owerspel (wat Bybels is), kwaadwillige verlating, ongeneeslike krankheid, of ʼn gewoontemisdadiger. Owerspel het behels vrywillige geslagsverkeer, verkrag, bestialiteit en sodomie. Verwere was gewoontlik die verskoning van die skuldige dat hy/sy kranksinnig, dronk, verdoof was. Dus was daar dwaling, of albei was dronk, of albei het toegestem (kondonasie). Kondonasie was dat die ander party bewus was, vergeef het, bereid was om voort te gaan. Soms was daar oogluikende toelating. Samespanning is wanneer daar ʼn fabriseer is van inligting of onderdrukking van feite of ʼn valse bewering. Kwaadwillige verlating moes factum of animus bewys word. Verwere was gewoontlik kranksinnigheid, ooreenkoms, regverdiging, owerspel, of hervatting. In die Romeinse reg het divortium ontwikkel uit repudium wat ʼn eensydige opsegging was deur die eggenoot weens die wangedrag van die ander party. Daar bestaan genoeg informasie oor die rol van egskeiding in die klassiek periode, die Bisantyns Christelike periode, die germaanse reg tot die 12de eeu, die kanonieke reg sedert die 12de eeu tot 1580 en die daaropvolgende Romeins-Hollandse reg tot in ons moderne tyd, veral in Suid-Afrika. In 1580 het die regsgeleerde Hugo de Groot in die Politieke Ordinansie van 1580 gesag vir die grond vir egskeiding gevind in Mattheus 19:9. In die moderne tyd het mense begin argumenteer dat egskeidinggronde nie in die Romeins Hollandse Reg as basis gevind word nie. Die engheid van die bestaan daarvan in die 12 tafels van die Romeinse reg het hulle ook gemotiveer tot verdere afwatering van die egskeidingreg. Die 12 tafels van die Romeine is ʼn afwatering van die tien gebooie en waarom moet mens die skaduwee volg as die werklikheid beskikbaar is? Die argument is dat ons moderne gemaklike vinnige egskeidingswette nie die huwelik dien nie maar help vernietig.

           Die Regskomissie van Suid-Afrika het aan die begin van 1975 reeds begin om die egskeidingsgronde te bevraagteken. Die nuwe egskeidingswet is op 1 Julie 1979 in Suid-Afrika aanvaar.

           Ek hou van wat Hendrik Stoker gese het in Oorsprong en Rigting vol. 2 (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1970) "Maar dit is meteen opvallend hoe hierdie verbrokkeling aan hulle verbygaan wat sekularisties en partikularisties in klassiek-positivistiese sin hulle beperk tot aandra van onoorsigtelik baie stukkies wetenskaplike boumateriaal met die optimistiese verwagting dat met toenemende akkumulasie van wetenskaplike materiaal die wetenskap na sy eenheid op weg is, en hoe min hulle hul bekommer oor die huidige krisis van die wetenskap" (Hendrik Stoker, Oorsprong en Rigting, 163). Egskeiding is nie meer ʼn straf vir die kwade en vergoeding vir die goeie nie. Die rol van afskrikking deur die hof is heeltemaal zero.

Hier wil ons kyk na die ou spykerskrif egskeidingsreg.

 

Nuut Sumeriese tyd

           Die nuut Sumeriese tyd was sedert die dae van Ur-nammu in 2112 vC by Ur. Dit het voortgeduur tot die vernietiging van Ur deur die Elamiete in 2004 vC. Die datum vir die teks is gedurende of net na na die dood van Abraham. Op die tablet No. 289 soos bespreek deur F. Thureau-Dangin, het ons ʼn egskeidingsooreenkoms. Die tablet is die finale uitspraak in ʼn oordeel tussen twee partye: man en vrou. Volgens die tablet het die man die vrou geskei. In die proses moes die offisier en amptenaar wat by die skei-proses betrokke is, eers ʼn eed aflê dat die vrou haar standpunt ingeneem het. Hierdie standpunt was toe sy by die hoogste gesag die man beveel het om haar vermoënsregtelik 10 shekels te betaal. As hy nie hierdie bedrag wat sy vra gee nie, kon sy waarskynlik ʼn groter of swaarder eis ten hom insit.

 

Oud Babiloniese en Oud Assiriese Periode

           Gewoontlik sien ons die Oud Babyloniese periode as die tyd tussen die val van Ur in 2004 vC en die dae van Hammoerabi in 1798 vC. Nog ʼn tablet, No. 240, bespreek deur F. Thureau-Dangin, het ons ʼn egskeiding wat deur die hof afgedwing word. ʼn Poging tot herstel word deur die hof verwerp. Die twee partye kon nie die huwelik herstel nie. Die doodstraf word voorgehou sou hulle weer probeer. Die bedrag wat hulle moet betaal is dieselfde as die kleiner bedrag hierbo genoem vir die hofonkostes. Daarna sal die een wat toenadering gesoek het, gedood word. Terugwinning word afgekeur. ʼn Mens wonder of die Assiriers hierdeur die alles of niks beginsel wou uitbring, m.a.w. of die man en vrou is alles vir mekaar of hulle is so goed soos dood vir mekaar. n Losse toedrag van sake wat deur ʼn aan en af situasie teweegebring kan word, word deur hierdie hoe punitiewe stappe uitgeskakel.

 

Hammoerabi se egskeidings gevalle

           In die eerste plek moet ons aantoon dat Hammoerabi is eintlik Hammoerabi II want in die dae van Abraham het hy ʼn Amraphel ontmoet wat waarskynlik Hammourabi I was. ʼn Teks word afkeurend deur J. Brinkman bespreek in sy Materials and Studies for Kassite History Vol. 1, 1976: 8 footnote 5 (1). Die teks was geskryf vir Nabonidus en sê dat vanaf Burna-Buriash tot Hammoerabi was 700 jaar. Dus vanaf 1374 vC bring ons in 2074 vC. Abraham het gesterf in 2065 vC so die teks, VAB IV 238 ii 20-22 met ʼn duplikaat in VAB IV 244, is van besondere belang vir die Bybel. Brinkman sien dit as skrywersfoute. AM = Hammu en Raphel = rabi. Maar dit is net so terloops. Hammoerabi se wette is op ʼn stela gevind. Die kodeks is deur J. de Morgan, die Fransman, uit die groot heuwel van Susa gehaal in Desember 1901 en Januarie 1902. Die wetsinskripsie bestaan uit 16 rye op die voorkant en 28 rye op die rugkant van die diorietblok. Die steen is 2.25 meter hoog.

           Die kodeks van Hammoerabi is nie ʼn sisteem van regsverhoudinge nie maar van lewensverhoudinge. Die gesigpunt is nie ʼn snit binne partye se regte, ongeag waardes nie. Die gesigspunt is ʼn ingesteldheid op lewenswaardes en die vordering wat in die lewe daartoe gemaak kan word (J. Jeremias, Moses und Hammurabi, op. cit. bladsy 6 waar hy die Franse regsgeleerde Savigny aanhaal toe hy gesê het: "Die Reg gaan van die Werklikheid van die lewe uit").

 

Om op te som het Hammoerabi verklaar in 1798-1750 vC:

1. Die man het meer vryheid tot egskeiding (wet 137) terwyl die vrou beswaar word deurdat ʼn regterlike egskeiding vereis word (wet 142).

2. Daar is vedoemenis teen ligtelike egskeidings en die vermoënsregtelike nadeel groei of was aan by die skuldige.

3. Die vrou mag weer hertrou (wet 134 en 137).

In die gevalle waar die man deur oortreding die huwelik breek kan die volgende tipes genoem word:

a. Die man verstoot die vrou wat hom kinders gegee het. Die wetgewer het in hierdie geval die reg van die vrou sorgvuldig beskerm: sy behou haar kapitaal, moet onderhou word, kry saam met die kinders ʼn kindsdeel en kan weer trou. Die kinders word aan haar toegewys (wet 137).

b. Verstoting en die kinderlose vrou. Die vrou behou die bedrag van die koopprys sowel die kapitaal wat sy ingebring het (wet 138). In die gevalle waar die koopprys nie voorhande was (wet 139 en 140) het die man aan die verlatende vrou ʼn verlatingsgawe - uzubbu, betaal. Die bedrag is waarskynlik so hoog soos die koopprys.

c. Lelike lewe van die vrou. Sy word verstoot sonder vermoensregtelike aanspraak of verneder tot maagd (wet 141) = amtu.

d. Siekte van die vrou. Die siek vrou word in die man se huis onderhou of sy kan met haar kapitaal wat sy ingebring het, gaan (wet 148).

           Die vrou mag regmatig skei: m.a.w. die egskeidingsgrond is:

a. in die geval van ʼn voortdurende afwesigheid van die man weens krygsgevangenisskap, maar dan, slegs as die onderhoudmiddele in die huis ontbreek (wet 134). Die huwelik word voortgesit wanneer die man weer terugkeer.

b. By kwaadwillige verlating (wet 136). Hier is opheffing van huweliksgemeenskap ter sprake.

c. By die versaking van huwelikspligte na ʼn regterlike beslissing (wet 142). Die vrou kan die kapitaal wat sy ingebring het, behou.

 

           Egbreuk word swaar gestraf:

i. Egbreuk van die vrou veroorsaak dat beide met die dood bestraf word (wet 129).

ii. Om ʼn onverwagtende moeder verwagtend te maak (behalwe haar man) is om die doodstraf oor jouself uit te spreek (wet 130). So ʼn vrou en die kind bly strafloos.

iii. Om die man gedurende huwelik valslik te beskuldig verswak die huweliksband (wet 131).

iv. Huweliksbeswaddering teen die vrou weeg swaar: die gode oordeel oor haar (wet 132).

v. ʼn Vrou van ʼn krygsgevangene wat ontrou is word gestraf deurdat sy verdrink word (wet 133).

vi. Kwaadwillige verlating word deur verdrinking gestraf (wet 143).

vii. ʼn Aanstigting tot gademoord word gestraf deurdat die skuldige gepaal word (m.a.w. met ʼn paal van onder na bo oopgeskeur word).

 

Laat Akkadies (1685-1647 vC)

           Op inskripsie no. 40 (sien A. Poebel) het ons ʼn huweliksvoorwaardekontrak wat die finansiele toedrag van sake beheer in ʼn geval van egskeiding. Die inskripsie dateer uit die 400-430 jaar wat Israel in Egipte was vir slawediens. Die kontrak bepaal dat as die man ooit vir die vrou sê: "Jy is nie meer my vrou nie", moet die bedrag wat sy in die huwelik ingebring het, teruggegee word. Bykomstig moet hy ʼn kleiner bedrag betaal as egskeiding-bevestiging. Aan die ander kant: as die vrou ooit vir die man sê: "Jy is nie meer my man nie" verloor sy die kapitaal wat sy in die huwelik ingebring het en bykomstig moet sy ʼn kleiner bedrag betaal as egskeidings-bevestiging. Hierdie huwelikswoorwaardekontrak het hulle wedersyds teenoor mekaar voor die koning afgesweer. Agt mans, twee vroue, die skriba en die noteerder was aanwesig. Die kontrak is ook behoorlik nl. twee keer versëel.

 

Sippar Kontrak van die onwillige party (CT 45, 86)

           Die ondervraging geskied deur ʼn meervoud van persone. Die ondervraging geskied voor getuies. Sy het hom nog lief maar hy weier. Die gereg beslis dat hy haar weer in die posisie moet herstel presies soos toe sy by hom ingeskuif het. Die toon van die ondervraging openbaar dat die gereg nie genëe is met die man se houding nie en dat hulle ekstra positiewe maatreels ople daarvoor.

 

Jode se posisie in Elephantine (459-408 vC)

           Hier rëel Mahseiah wat ʼn grond gehad het langs die grond van sy dogter se man, dat die man daar moet bou. Hy skenk dit onder voorwaardes dat die skoonseun die grond mag besit onder opskortende voorwaardes. As hy skei, kry hy niks behalwe die kinders. As sy van hom skei, sal hy die helfte kan kry maar die kinders kry dit na hom. Hy is slegs vruggebruiker in n fiduciarus-verhouding oor die helfte. Ontkenning van die Testament het skadevergoeding tot gevolg ten gunste van die begunstigde.

 

Haar kontrak met ʼn derde huwelik (ANET 222, 223)

           As sy haar man wil skei moet sy hom 1.5 keer die bedrag gee wat hy vir haar betaal het. In haar man se verklaring het hy gesê hy neem haar as sy vrou "van die dag vir ewig en altyd". Sy moet in die vergadering opstaan en verklaar dat sy hom skei. So ʼn geval sal veroorsaak dat die prys van die saak, nl. die egskeidingskostes op haar hoof val.

 

Haar kontrak met ʼn Egiptenaar as huweliksmaat

           Die Jodin Mistahiah het ʼn Egiptenaar getrou en toe geskei. Die troue het beteken haar uittrede uit die Joodse gemeenskap en intrede in die Egiptiese gemeenskap. Die likwidasie vereis n sweer van n eed by ʼn Egiptiese afgod. Die getuies is nie-Joods of Egipties.

 

Bronne:

1. Johannes Jeremias, Moses und Hammurabi (Leipzig: J. C. Hinrichs'sche Buchhandlung, 1903), 11-13.

2. K. R. Veenhof, The Dissolution of an Old Babylonian Marriage According to CT 45, 86" Revue d' assyriologie et d' archéologie orientale 70 (1976): 154ff.

3. J. B. Pritchard, Ancient Near Eastern Texts (Oxford, Oxford University Press, 1950), 217, 218, 219, 222, 223.

4. Fr. Thureau-Dangin, Recueil de tablettes chaldéennes (1903) vir No. 289 vertaal deur C. J. Gadd in A. Sumerian Reading Book (1924), 173.

5. Fr. Thureau-Dangin, Lettres et contrats de l'époque de la première dynastie babylonienne (1910) vir no. 242 en bespreek deur J. Lewy in Zeitschrift für Assyriologie und vorderasiastische Archäologie 36 (1925): 139-161.

6. A. Poebel, Babylonian Business and Legal Documents (1909) no. 40 deur M. Schorr.

7. P. J. J. Olivier, A. H. Barnard, D. S. P. Cronjé,  Die Suid-Afrikaanse Persone- en Familiereg (Durban: Butterworth, 1980).

 

Egbreuk in die spykerskrif is met afkeur bejeën en daar is selfs bewyse van herstel van huwelik as oplossing