Reaksie op Adrio König se Drie-Eenheid's begrip Geagte prof. dr. König
Ek het u artikel gelees oor die Drie-eenheids leer.
Die gevolgtrekkings het vir my ietwat rasionalisties voorgekom, menende dat dit
n gehoor bevredig wat baie vertroud is aan die metodiek van Vertolking van die
periode van die Rasionalisme in die 18de eeu.
Dit is miskien nie n goeie beleid om Jode te vra of hulle die Drie-eenheid
raakgeloop het in die Ou
Testament nie, want hulle sal se nee, nie omdat dit nie daar is nie, maar omdat
hulle sedert die koms van Mohammed baie seker gemaak het dat hulle geloof
monoteisties is.
Tog is daar in die voor-Mohammed Judaisme heelwat te se oor die Drie- eenheid
in die Targoems ens.
My pa en ek wonder of u gekyk het na Genesis 1 wat se "Kom laat Ons mense
maak na Ons beeld en Ons gelykenis..." Die Jode kan nie die 1ste persoon
meervoud miskyk nie. Nie as hulle letterlik wil bly nie.
Amos 1 en 2
In my ernstige lese van Amos 1 en 2 by die uitdrukkinge "sal Ek nie
terugkeer nie..." wat 8 keer voorkom is daar iets wat alle vertalings
miskyk. n Raadpleging van Judaisme is vir my die enigste redes hoekom
Christen vertalings dit vertaal met n monoteistiese "sal Ek dit nie
terugkeer nie.." of "sal Ek hulle nie laat
terugkeer nie..." (Redak en Rashi in die Middeleeue).
Maar foutief. Gewis uself daarvan.
Die Hebreeuse werkwoord het n affiks agter aan die werkwoord wat getranskribeer
kan word as -nu.
Wat beteken NU? Baie maklik. Wat beteken NU in IMMA-NU-El?
Hoekom het die vertalings die "ons" uitgegooi uit die oorspronkllike?
Omdat die Jode draaie om die
letterlike vorm loop want hulle kan nie en wil nie Jahweh sien as Drie-enig
nie.
Psalm 110
n Baie noukeurige lesing van Psalm 110 wys daarop dat die woorde "My
Heer het tot my Heer gese ..."
kan nie Dawid wees nie, om baie redes. Dit maak nie sin in die konteks nie. Ek
wil nie nou daarop ingaan nie om plek te bespaar. Weereens n joodse omseiling.
Sonder die Drie-eenheids leer kan die Ou en Nuwe Testament nie sin maak nie en
sal mens telkens in slaggate trap.
Dit is n leerstelling waarsonder die Bybelse leser nie kan fungeer nie.
Ek dink nie die leerstellng het enigeiets te doen met Griekse of Romeinse
wereld patrone wat die kerkvaders beindruk het nie.
Laat ons die onderwerp induktief benader en nie didaktief nie want hedendaagse
navorsing trap heelwat klei en mens moet bedag wees op die opportunisme wat aan
die orde van die dag as agtergrond vir standpunte.
Groetnis met n glimlag
In die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees
koot van wyk (DLitt et Phil; ThD)
Kyungpook National University
Sangju Campus
Suid Korea
medeverbonde lektor aan Avondale Kollege
Australia
19 Junie 2009
Original text of dr. Konig in Beeld
God is anders, sê Drie-eenheidsleer
Jun 17 2009 10:39:29:173PM - (SA)
Druk artikel
E-pos storie aan 'n vriend
Die vreemde leer dat God drie-enig is, is weer onder bespreking. Daar was selfs
mense wat dit belaglik wou maak met sommetjies soos 1+1+1=1.
Maar die ou kerkvaders was darem nou ook nie bobbejane nie.
Dié leer staan nie in die Bybel nie. Dit is ’n poging in later eeue om dinge
wat die Christene in die Bybel gekry het, te probeer verduidelik. Die woorde
wat hulle oor God gebruik het, een Wese en drie Persone, is Grieks-filosofiese
terme wat ook nie in die Bybel voorkom nie.
Dit beteken dat ons waarskynlik kan aanvaar dat ons nooit presies hierdie
formulering sou gehad het as die evangelie byvoorbeeld deur Afrika, en nie deur
Griekeland nie, na die res van die wêreld gegaan het. Die meeste Afrika-tale
het nie woorde vir sulke onderskeidings nie.
Is dié vreemde leer dan in die geheel nodig? Nee, nie regtig in presies hierdie
vorm nie. Maar ons het wel iets nodig om belangrike dinge wat ons in die Bybel
kry, te probeer verduidelik. Die vroeë Christene het dit nie vir die grap
gedoen nie.
As dit nie vir die Nuwe Testament was nie, sou ons nie hierdie leer gekry het
nie. Die ortodokse Jode ken dit nie. Hulle glo daar is net een ware God – en
klaar. Dit kry hulle duidelik in die Ou Testament, hulle Bybel.
Maar toe het Jesus gekom. En geleidelik beleef die mense om Hom dat Hy meer is
as net ’n gewone mens. Hy het ’n unieke verhouding met God.
Om dit te probeer uitdruk, noem hulle Hom later “Here” en hier en daar word
selfs na Hom as “God” verwys. Veral Johannes doen dit graag, maar ook Paulus
(Joh. 1:1,18; 5:18; 20:28; 1 Joh. 5:20; Rom. 9:5).
Verder het die titel “Here” vir Jesus ook hierdie hoë betekenis. In die Ou
Testament is God se Naam Here (Jahwe), en in die Nuwe Testament verklaar Paulus
dan dat God hierdie Naam aan Jesus gegee het (“die Naam wat bo elke Naam is” –
Fil. 2:9).
Net soos God die Vader is Jesus dus ook “God” en “Here.” Skynbaar het hulle
bedoel dat Hy gelyk is aan God die Vader (Joh. 10:30; 14:9).
Maar intussen het hulle bly vashou aan die boodskap van die Ou Testament dat
daar net één ware God is. Skynbaar het hulle dit toe só verstaan dat daar in
hierdie een God ’n soort meervoudigheid is.
Dis natuurlik anders as ’n mens. ’n Enkele mens is net een, enkelvoudig. Maar
God is anders. En hulle het hiervoor woorde gesoek. Hulle wou tegelyk die
eenheid en die meervoudigheid van God probeer uitdruk, die feit dat daar net
een God is, maar dat drie verskillendes “God” genoem word.
Aanvanklik het dit net oor die verhouding tussen Jesus en die Vader gegaan,
maar later het die verhouding van die Gees tot die Vader ook bygekom.
En omdat ook die Gees in die Nuwe Testament met goddelike terme bely word
(onder meer “Here” in 2 Kor 3:18), het Hy deel geword van hul poging: ook Hy
het ’n unieke verhouding met die Vader.
Uiteindelik het hulle gekies vir die formule dat God een Wese is, maar drie
Persone.
Hiermee wou hulle niks meer sê as wat hulle in die Bybel gekry het nie: Daar is
net een God, maar tog word die Vader én Jesus én die Gees “God” genoem en aan
mekaar gelyk gestel.
Ek is nie seker presies watter probleme mense alles hiermee het nie. Natuurlik
kan ’n mens die verhouding tussen die drie ook anders probeer uitdruk, maar as
Christene wil ons graag getrou bly aan wat ons in die Bybel kry, en dit is dat
daar net een ware God is, maar dat sowel die Vader as die Seun en die Gees
“God” en “Here” genoem word.
Kan ’n mens dit verstaan? Wat beteken “verstaan” in hierdie verband? Ek weet en
verstaan dat mense nie so is nie. En ek weet en verstaan dat daar gegewens in
die Bybel is wat my in dié rigting laat dink, nes die vroeë Christene.
Ons kan in ek geval net in menslike taal oor God praat, en dié wat dit in die
Bybel gedoen het, het dit goed gedoen. En ek volg hulle graag hierin.
En ek is nie te bekommerd dat dit op ’n vreemde formule uitgeloop het nie. God
is darem seker ’n bietjie anders as waaraan ons gewoond is.
• Prof. Adrio König is ’n sistematiese teoloog.
http://jv.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2530534,00.html