By die instap van die kerk

 

(koot van wyk, 26 Mei 2012)

 

Ek staan op die kerkdrumpel Heer
Die glas-deur toe voor my
Deur die skrefie-venster sien ek die lede sit en wag
Ek trek my skoene uit in Koreaanse gewoonte
Op kouse nou Heer voor die deur
van U heiligdom.

 

As U Gees nie nou saam stap nie,
wil ek die deur nie oopskuif
en wil ek nie ingaan nie.
want vergeefs
skyn ek om te aanbid as U nie in my hart is nie.
vergeefs sal ek sit en staan en kniel met gedaante van godsaligheid
maar sonder U Gees
die krag van die aanbidding verloën.

 

My brein stem in om in te stap
hoekom weet ek nie
vrede oor my siel
wete gerustend
dat U uitgenooi was
om saam te stap na my sitplek
en die lied
"Jesus hou my by die kruis"
trek my hart vanaand soos ʼn tuit na God
en rol die trane wat brand in my oë
van geluk en heimwee
na die doopbak lied
en my ouma onder die boom met hees genot
toe haar hart ook soos ʼn tuit na God getrek was.


Gelukkig is dit allergie maand die someraand in die Koreaanse kerkie.