Regverdiging deur die Geloof deur Anti-Reformistiese Katolieke
vergelyk met Adventiste
Koot van Wyk
(DLitt et Phil; ThD) Besoekende Professor by die Departement Bevrydende
Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju Kampus, Suid Korea,
Medeaangehegde lektor vir Avondale Kollege, Australie.
ʼn Klomp
Katolieke het besluit om ʼn vergadering te hou want die Jermans het die hele wêreld
op hol. Die Pous sit toe die bal aan die rol dat hulle die reinheid en waarheid
van die Christelike geloof moet verdedig want donkertes van dwaalleer het nou
al vir soveel jare die aarde bedek dat die katolieke liggie, wat die ware lig
is, sê hy, in glansende reinheid weer kan uitstraal. Toe loop die kardinale en
biskopppe van verskeie lande en kom saam by die Raad van Trente. Almal het ʼn
eier te lê gehad oor die onderwerp van regverdiging
deur die geloof. Daar was Fransiskane, Dominikane, Karmeliete, Augustyne,
Jesuïte maar die Fransiskane was in die meerderheid. Sieninge is toe vir maande
aangebied deur die geleerdes en elkeen het ʼn kans gehad om sy sê te sê. 104 van
hulle het byeengekom. Maar dit sou nie by 104 bly nie, want humeure het te hoog
geloop. Soos die geval van die biskop B. von La Cava wat opgestaan het en gesê
het hy wil ook ʼn stuiwer in die beurs gooi. Kyk, regverdiging is alleen deur
die geloof, het hy ewe oortuigend gesê. Het hy geslaap in die vergadering en
nou net wakker geword? B. von Chiron skrou toe vir hom dat hy ʼn droster is en ʼn
Lutheriet. Von La Cava word rooi in die gesig en hulle wil mekaar net te lyf
gaan. Toe besluit die glurende kardinale en biskoppe, Von La Cava is “out of
step” en hy kan maar sy goedjies pak en klooster toe gaan. Hy is nie meer nodig
nie. ‘Snork voort met julle gekonkel maar los my uit’ en hy is toe terug
klooster toe. Dit is nie maklik om ʼn droster te wees in daardie kerk nie en ons
word nie gesê wat van hom geword het nie, maar die Heilige Strafboek
gepubliseer in Ellen White se dae, gee die volgende moontlikhede nadat hulle
die geskiedenis deursoek het: “In ons kerk is daar nie so iets soos bloedstraf
nie maar ons verban, gee dwangarbeid, vaskettinging, toegesluitheid in ʼn
klooster, gevangenis, pak slae, geld uithaal en wys, konfiskasie, brandmerk,
ens.” Dit was nag vir die hoenders vir Von La Cava. Onse hemelse Vader sou die
goedige katoliek seën. Hy was in die meerderheid en het dit net nie geweet nie.
Biskop Claudius Jajus sê toe dat hulle gerus die toom kan inhou. Hy het die
Skrifte en die Vaders nagte deurgeworstel en sy elboë het skoon eelte, maar dat
hy tot die slotsom gekom het dat die regverdige sal deur die genade van God gehoorsaam
wees en uit liefde die gebooie van God hou. Tog is Gods genade nodig om ons te
help om Sy gebooie te onderhou. Een biskop het gesê as hulle die Protestante
die loef wil inloop moet hulle hul boeke lees so ʼn ander biskop het later per
brief laat weet dat hy al die boeke wat hy van Luther kon kry aangestuur het vir
studie. Luther was oortuig van sy evangelie oorsprong en in 1537 sê hy in die Schmalkaldener Artikel op Geloof en Werke dat hiervan weet die
Pous, teoloë en Juriste nog maar bra min, maar dit is ʼn leer uit die hemel deur
die Evangelie geopenbaar en as mens vir kettery soek moet mens by die goddelose
Heiliges begin. Die Raadgangers begin hul opsomming toe met, soos hulle dit in
die voorwoord stel, ʼn wetlike versameling in die Heilige Gees in die naam van
ons mees geheiligde vader en heer in Christus, Paulus II. Wat in die Hemel
begin eindig op aarde in die sin. Hulle onderneem met die skryfstuk dat dit
verbode sal wees om van nou af te glo, preek, en leer as dít wat in die skrywe
vasgelê is. In Hoofstuk I sê hulle dat alhoewel hulle in Adam hul onskuld
verloor het en erfsonde gekry het, het hulle nie hul wil, gebuig soos dit is,
verloor nie. In Hoostuk III sê hulle dat tensy iemand nie weergebore word nie
kan die persoon nie geregverdig word nie. In Hoostuk V sê dit dat deur sy
aanporrende genade gee Hy hulp om hulself weer te laat gebore te word deur hul
eie regverdiging deurdat hulle op ʼn vrye manier saamwerk met die genade. Adventiste
verstaan dat die weergeborenheid deur die Gees se operasie plaasvind en die ou
hart uitgesny word en ʼn nuwe hart ingeplaas word, die wet geskryf word op die
tafel van die hart. Wanneer die biskoppe bid “laat ons weergebore wees en dan
is ons” dan meen hulle God verhinder hulle om weergebore te wees. Verhindering
is nie deel van Adventiste se model nie. God verhinder niemand nie wanneer dit
by verlossing kom nie. ʼn Oulike stelling is Hoofstuk VI gedeeltelik dat die een
wat regverdig wil wees moet voorneem om gedoop te word en ʼn nuwe lewe begin en
om die Wet van God te onderhou. In Hoostuk VII wil hulle die punt maak dat
sakramentele besprinkeling of doop, soos hulle dit doen, is die enigste pad na
regverdiging. Adventiste besprinkel nie. As jy jou biskuit in die tee doop dan
is dit totaal in. Mens druk nie jou vingers in die teekoppie en besprinkel die
beskuit nie en noem dit ‘doop’ nie. In Hoofstuk IX is hulle teen goedkoop
genade. Jy kan nie sê ek is verlos nie en klou aan jou sondes nie. Adventiste
is op dieselfde bladsy hier. In Hoofstuk X wil hul aandui dat die Apostel
Paulus gesê het dat deur die liggaam te onderwerp aan heiligmaking deur die onderhouing
van die Tien Gebooie en Kerk, werk geloof saam met goeie werke en word die
persoon verder geregverdig. ʼn Oulike punt wat Adventiste sal onderstreep is in
Hoofstuk XI wat sê dat niemand wat geregverdig is moet dink dat hy verskoon is
van die onderhouding van die Tien Gebooie nie. Ons is hier op die 13de Januarie
1547 en dit is die Konsilie van Trente
se reels oor Regverdiging deur Geloof.
Dit is die Katolieke se poging om die Protestante hervorming te kortwiek en te
verhinder dat skape draadspring. Niemand moet sê dat die onderhouding van die
Tien Gebooie is onmoontlik vir die een wat geregverdig is nie, want, God se
opdragte is nie onmoontlik om gehou te word nie. Hy sal jou nie laat bid vir
iets wat jy nie kan doen nie en verder, Hy voorsien hulp sodat jy bemagtig is.
Ai, maar dit is vir jou mooi Adventisme hier uit die mond van die eerste dier
van Openbaring 13. Die wat hom lief het, sê die Katolieke hier in Hoofstuk XI,
sal Sy gebooie onderhou, soos wat Christus self getuig. Sowaar, met heilige
hulp kan hulle die wet onderhou. Gee so mond sommer heelwat vyekonfyt. Is dit
nie waar nie? Dan maak hulle nie sin nie, want hulle sê dat iemand wat val of
sondig nadat hulle geregverdig is hou nie op om geregverdig te wees nie. Hier
haal Adventiste ʼn rooi kaart uit. Was dit nie Augustinus wat gese het, ‘Here help
my sondig sodat ek meer genade kan kry’ nie? ʼn Skewe opmerking van hom en snaaks,
die Katolieke hou baie van Augustinus. Die biskoppe sê toe dat daar nie soiets
is dat deur geloof alleen verlossing gewaarborg is nie. Ook hier sal Adventiste
ʼn rooi kaart uithaal. Hoofstuk XI is gemeng met waarheid en valshede. Hulle
verwys na Petrus wat gesê het dat mens meer moet verrig om uitverkiesing te
bevestig. Teen die Kalvyne gooi die biskoppe wal in Hoofstuk XII. Hulle sê dat
niemand moet dink dat deur die Uitverkiesingsleer hy/sy verseker kan weet of
hulle gered is nie, tensy daar ʼn spesiale openbaring was. Mens kan nie dink dat
mens nie meer kan sondig nie na regverdiging nie. Adventiste is ook eens hier dat
daar nie soiets is soos ‘eenmaal gered altyd gered’ nie. In Hoofstuk XIII
waarsku hulle almal wat weergebore is om nie te dink hulle staan nie, want
hulle kan val en daarom met vrees en bewing moet hulle hul verlossing uitwerk
in goeie werke, bewaking, barmhartigheid’s gawes, gebed, offerandes, vas en moreel
skoon te bly, omdat hulle weet dat hulle weergebore is vir die hoop op glorie
maar nog nie die glorie het nie en dus die werke van die vlees moet teenstaan
omdat hulle leef in die duiwel se wêreld en nie oorwinnend kan wees sonder God’s
genade nie. Hoofstuk XIV vertel dat tydelike straf mag ondervind word deur die
wat ondankbaar is vir God’s genade en die Heilige Gees bedroef het en ook die
liggaam as tempel van God geskaad het. In Hoofstuk XV sê hulle dat die
leerstelling van die Heilige Wet van God sluit uit die koninkryk van God nie
net die ongelowige nie maar ook hoere, egbrekers, [LBTGQ] of die “vroulike
nabootsers,” leuenaars, diewe, dronkaards, begeerlikes, stelers deur geweld en
almal wat dodelike sondes gedoen het. Net om seker te maak dat almal weet wat
om na te volg en wat om te vermy, het hulle ʼn reeks Kanonieke reëls gelys. Kanon
1: Enigeeen wat se dat mens regverdig kan wees deur jou eie werke, of deur die
menslike natuur of wet, sonder die hulp van God’s genade, is verkeerd. Kanon 2:
Om te sê dat God’s genade is slegs gegee om mens makliker te laat leef en
regverdig en om die ewige lewe te verdien met die vrye wil sonder genade, is
verkeerd. Kanon 3: As iemand sê dat hy regverdig kan wees sonder die
hulpvaardige vooraf inspirasie van die Heilige Gees, is hy verkeerd. Sover sê
elke Adventis, nee maar laat ons hoor. Kanon 4: As iemand dink dat die vrye wil
van die mens is beweeg en opgewek deur God en dat die mens slegs passief navolg
en nie koöperatief is nie, dat hy/sy nie die genade kan weerstaan of verwerp
nie, is hy verkeerd. Adventiste gee steeds ʼn groen kaart vir die mooi reëls. Kanon
5: As iemand sê dat die vrye wil is slegs ʼn label, slegs in naam maar nie in
realiteit nie en dat die mooi woorde deur Satan en die Kerk uitgedink is of
ingevoer is, is hy verkeerd. Nog ʼn groen kaart van die Adventiste vir die mooi
reël. Kanon 6: Dat selfs bose werke deur God gewerk word, is hulle verkeerd.
Natuurlik, sê alle Adventiste. Kanon 7: Dat alle goeie werke van die mens is
nie vuil fodde nie en dat selfs die goeie werke, wat mense doen voor
regverdiging is eintlik sondig want hoe meer iemand begeer om genade te verkry,
hoe meer verloor hy/sy dit, sal verkeerd wees. Adventiste erken dat God nie
goeie werke van wie ookal miskyk nie want Adventiste voel die mense bly binne
die perke van God’s wet en dit is deur die wet wat mense geoordeel word. Daar
is liberale Adventiste wat deur Reformatore se kommentare oortuig geword het
dat alle mense niks goeds voor God kan doen nie en daar is ʼn teks in Jesaja wat
aangehaal word vir die beskrywing. Hulle interpreteer miskien die verband
ietwat uit. God sal nooit die goeie werke van enigeeen oorsien nie. Dit is wat
Hy begeer. Is dit nie? Kanon 8: As iemand sê dit is verkeerd om ʼn hel en swael preek te preek sodat ons na
die genade van God kan vlug, dit is nie korrek nie. Adventiste stem hiermee
saam. Niemand is nog gered net omdat hulle die hel vrees nie, soos die
Reformatore sê, maar gelyklopend met die Katolieke moet ons sê dat as hulle
deur die hel prentjie by God se deur aanklop vir verlossing, het hulle dit. Kanon
9: As iemand sê dat iemand sola fide
slegs deur geloof gered word sonder dat iets anders nodig is en dat sy vrye wil
nie eers voorberei moet word deur die Gees nie, is hy verkeerd. Adventiste
erken geloof alleen nie omdat hulle die Gees se werking ontken nie maar omdat
die vrye wil en geloof een pakket is vir die sondaar na verlossing. Die Gees
sal nie die wil beïnvloed nie en einaarskap van die geloof is die persoon s’n
daarom is verlossing slegs deur die geloof soos die hervormers probeer sê het.
Miskien sal Adventiste hier n rooi kaart uithaal. Kanon 10: As iemand sê dat
mense regverdig kan wees sonder die beregting van Christus is hulle verkeerd.
Adventiste praat saam hier. Kanon 11: As iemand sê dat dit slegs die toebedekte
regverdigheid van Christus is wat mens regverdig, slegs met die vergifnis van
sonde, sonder die toebedeelde genade wat in die hart gestort word deur die
Heilige Gees en wat inherent word, dan is hy verkeerd. Adventiste sal sê dat
die puntenerigheid of die fyn verdeling van die aspekte hier onnodig en
kunsmatig verkeerd is, want die aspekte is nie opvolgend in orde aanwesig nie
maar ʼn proses wat in sy geheel besig is en aanvang neem en sou ʼn persoon sterf
voor die einde van die proses is die persoon steeds regverdig al het hy nie ʼn
kans tot volwassenheid van die heiligmaking gehad nie. Byvoorbeeld die dief aan
die kruis. Nie waar nie? Kanon 12: As iemand sê dat regverdiging is selgs ʼn
vertroue in die heilige Genade van God en dat hierdie vertroue is al wat nodig
is vir verlossing, dan is hy/sy verkeerd. Adventiste sal ʼn rooi kaart hier gee.
Om op God te vertrou is al wat nodig is om regverdig te wees. Al die gawes van
die hemel sal spring om te red. ʼn Eenvoudige gebed van twee sinne of selfs een
soos die dief aan die kruis, is voldoende. Kanon 13: Enigeeen wat sê dat mens
oortuig moet wees sonder huiwer dat sy sondes vergewe is, is verkeerd. Rooi
kaart is uitgehaal vir die Katolieke deur Adventiste met die reël. Kanon 14:
Iemand wat dink dat omdat hy glo dat hy vergewe is, is hy/sy werklik vergewe, en
deur die denke is sy regverdiging bewerkstellig, is verkeerd. Adventiste
antwoord dat die onseker aspek vanselfsprekend is maar vertroue soos Abraham
gehad het met sy antwoord aan Izak: dat God self sal voorsien, is hier in
gedagte, dus sal die Katolieke van die Adventiste ʼn rooi kaart kry hier. Kanon
15: Iemand wat sê dat die weergeborene en regverdige kan deur die geloof
verseker wees dat hy uitverkies is, is verkeerd. Weereens sal Adventiste ʼn rooi
kaart uithaal vir hul beslissing hier. Almal wat uiteindelik wil glo, sal
uitverkies wees. Die getal is nie vasgestel of gebaken deur God nie. Nie die
getal nie maar die voorwaarde tot verlossing is vasgestel. Kanon 16: As so ʼn
versekerde vertrouer dink hy het regverdigheid maar meer nog, ook die
volharding tot die einde toe as gawe, is hy verkeerd. Adventiste sal ʼn groen
kaart gee hier en saamstem. Volharding is ʼn daaglikse oorgawe aan God en ʼn
gedurige verhouding tot die end, dit is nie ʼn eenmalige gawe nie. Kanon 17: Om
te sê dat slegs die wat uitverkies is deur God ontvang genade vir verlossing
maar dat ander wel geroep is maar nie uitverkies is nie en dus die bose sal
wees, is verkeerd. Adventiste sal saamstem met Katolieke hier oor die verwerping
van die leerstelling van die Kalvyne. Kanon 18: As iemand sê dat die Gebooie
van God is onmoontlik vir iemand om te onderhou, selfs met genade, is die persoon
verkeerd. Adventiste glimlag tevrede oor die reël. Kanon 19: As iemand sê dat
slegs geloof nodig is en dat enige ander saak is nie gevra of verbied nie maar
dat mens vry is selfs van die Gebooie van God want dit is nie vir Christene
nie, [slegs vir Jode], is hy/sy verkeerd. Adventiste gee ʼn groen kaart hier. Kanon
20: Iemand wat sê dat ʼn regverdige, ongeag hoe volmaak hy is, is nie verplig om
die Tien Gebooie te onderhou nie omdat hy deur die Evangelie die verlossing
ontvang het, is hy verkeerd. Adventiste gee ʼn groen kaart, nie waar nie? Kanon
21: Dat Christus was slegs gegee as ʼn Verlosser om te vertrou en nie ook as ʼn
Wetgewer om te gehoorsaam nie, is verkeerd. Adventiste se groen kaart lê al
klaar reg. Kanon 22: Dat die regverdige in staat is om te bestaan sonder
spesiale hulp van God, is ʼn verkeerde seining. Adventiste stem hiermee saam.
Kanon 23: As iemand sê, ‘eenmaal gered altyd gered’ en dat as iemand val of
sondig was hy nooit werklik regverdig nie, of dat iemand in staat is om sondes
volmaak te vermy, is hy/sy verkeerd. Adventiste sal ʼn rooi kaart gee hier oor
die laaste sinne in die Kanon wat sê dat hulle wel so ʼn ‘eenmaal gered altyd
gered’ toelaat as daar ʼn spesiale openbaring van God was of dat die Kerk hulle
toelaat deur die Maagd Maria. Andersins vir die korrekte in die eerste gedeelte,
sal Adventiste hier ʼn kaart kleur gee volgens die invloed wat Reformatistiese
teologie op hulle het. Romeine 7 is die krisis of dit Paulus of Saulus is wat
praat en net soveel teoloë kies Paulus as die wat Saulus kies. Dis belangrik
want dit bepaal of mens volmaak kan wees na regverdiging of nie. Job was
volmaak en so was Henog. Sal ons sê volmaak in toewyding maar nie noodwendig in
kwaliteit van dade nie? Sommige Adventiste sal sê mens kan volmaak wees voor
die Wederkoms en ander sal sê mens kannie. Dit is waaroor die Ford petalje
gegaan het in die 1970’s in Adventisme. Die boek Perfection in daardie jare het vier standpunte in Adventisme
verduidelik: twee met Reformatoriese klemme, E. Heppenstall en H. La Rondelle
en twee Volmaaktheid beklemmers, byvoorbeeld M. Maxwell en H. Douglas. Die
waarheid lê miskien nie ʼn polariteit van die standpunte nie, maar in almal, al
klink dit soms of hulle by mekaar verbypraat. By Helderberg Kollege was dit
byvoorbeeld die sienings van Izak van Zyl teenoor Smuts van Rooyen. Weens die
diskoers-koors wat oor die wereld gebroei het, en as student van beide, het ek
tot die slotsom gekom dat hulle eintlik by mekaar verbypraat en verskillend
klink, maar nie werklik is nie. Al wil hulle ook voorgee huidiglik (of in die
verlede) hulle is nie eens meet mekaar se idees nie. Dit hang af waarna mens
kyk en vanwaar mens die vertrekpunt van ondersoek maak. Kanon 24: As iemand sê
dat die regverdigheid is staties en eenmaal gegee en dat God nie kan toevoeg of
dit onderhou nie omdat die goeie werke slegs ʼn vrug is van die regverdigheid
maar goeie werke nie die regverdigheid kan vermeerder of bydra daartoe nie, is
hy of sy verkeerd. Adventiste erken die beginsel van sola Christi wanneer dit kom by die sola fide en sola gratia.
Bydrae is nie nodig nie. Die beginpunt van verlossing is sonder mens se hulp. Kanon
25 kom weer terug na ʼn punt wat hulle reeds gemaak het, naamlik dat as iemand sê
dat elke goeie werk is sondig in elk geval, is hulle verkeerd. Adventiste kan
antwoord dat dit waar is dat daar baie mense is wat goeie werke doen blykens
sonder Christus of God omdat hulle ander gelowe aanhang, selfs panteisme, maar
doen hulle dit om geëer of gesien te word? Is daar selfsugtige redes vir die
goeie dade? Dan is ons terug by Satan want dit was wat hy gedoen het.
Opportunisme met die goeie dade, kleur ongelukkig die goeie dade want die Bybel
beginsel is dat mens se regte hand moet nie weet wat die linker hand doen nie. Nie
waar nie? Kanon 26: As iemand voel dat dit verkeerd is van enigeen om te dink
sy goeie werke kan hom die ewige lewe gee of beloning van God, is hy verkeerd. Miskien
sal Adventiste n rooi kaart gee hier as gevolg van die Rooi kaart in Kanon 25. Kanon
27: is terug by die ‘eenmaal gered altyd gered’ storie want dit sê as iemand
dink dat as hy eenmaal die genade verloor het deur sonde of dat geloof daarmee
ook verloor is of aan die ander kant dat hy genade ontvang het sonder ʼn lewende
geloof of ʼn ware geloof, en tog nog gered sal word, in beide gevalle is hulle
verkeerd. Adventiste stem saam oor die tweede ‘goedkoop genade’ teenvoeter maar
die eerste een wil miskien die verlossingmasjien té kunsmatig sny. Kanon 29: As
iemand dink dat iemand wat geval het na die Doop kan nie weer deur God’s genade
gered word nie, of dat hy herstel kan word sola
fide slegs geloof sonder boetedoening by die priester teen wat die Roomse
Katolieke leer, is dit verkeerd. Adventiste gee ʼn groen kaart vir die eerste
sinfrase maar nie vir die tweede helfte na die /of/ nie. Hulle kry ʼn rooi kaart
daarvoor. Kanon 30: As iemand sê dat regverdiging is die einde van die persoon
se skuld en dat die persoon nie meer geboet sal word met die verderf nie, is
die persoon verkeerd. Adventiste gee ʼn rooi kaart hier. Kanon 31: is weer ʼn
terugkom dat dit verkeerd is as iemand se dat goeie werke kan nie mens se
hemelse beloning koop nie. Kanon 32: is weer ʼn herhaling van wat reeds vooraf
gesêis dat as iemand sê dat goeie werke wat die weergebore en regverdige doen,
kan nie sy of haar regverdigheid verhoog of verbeter nie, is die persoon
verkeerd. Adventiste gee ʼn rooi kaart hier want Christus se deel in die
Regverdigverklaring is Sy deel en nie ons deel nie en Regverdigmaking is ons
deel saam met Hom.
Die Lutherane en
ander Protestant-genoodskappe het besluit om die profesieë te vervul en hande
te vat met die Dier van Openbaring 13 en verwonderd agter hom aan te dros. Hulle
wil Ekumenisme aanpor en verwelkom. Hulle het ook die dokument wat ons so pas
deurgewerk het geneem en besluit dat die katolieke vir elke punt ʼn groen kaart
gegee moes gewees het en dat hulle omverskoning moet vra vir Luther en Kalvyn
se onbeholpenheid. As mens die groen en rooi kaarte tel wat Adventiste vir die siening
van Katolieke sal gee vir hul standpunt teen die Reformatore Luther en Calvyn
en ander in die Konsilie van Trente, dan is dit onmoontlik vir ʼn goeie Adventis
om te gaan saampraat met die wat bereid is om met oogklappe saam te sit.
Bronne:
Hefner, J. Die Entstehungsgeschichte des Trienter Rechtfertigungsdekretes (Paderborn,
1909), 297-328. Retrieved on 10th of September 2016 at https://babel.hathitrust.org/cgi/pt?id=hvd.hnum7l;view=1up;seq
Stakemeier, E.
“Die theologischen Schulen auf dem Trienter Konzil während der
Rechtfertigungsverhandlungen. In: Theolgische Quartalschrift 1936: 117
(1936): 188—207; 322—350; 466--504.
Heynck, V. “A Controversy at the Council
of Trent Concerning the Doctrine of Duns Scotus” Franciscan Studies Vol. 9/3 (September
1949): 181-258.
D. C. Mirbt, Quellen zur Geschichte des Papsttums und des Römischen Katholizismus
(Tübingen: J. C. B. Mohr, 1911 3rd edition). 214-222.