Job: Die Teks

Koot van wyk (DLitt et Phil; ThD) Besoekende Professor, Departement van Liberale Kunste Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju-Kampus, Suid-Korea, Medeaangehegde lektor vir Avondale Kollege, Australië

 

Dit klink of dit snaaks sal wees om te vra watter teks mens moet gebruik vir Job maar dit is nie. Nie almal weet dat die boek Job oorspronklik in Hebreeus geskryf was nie. Die meeste mense gebruik moderne vertalings en hulle is geheg aan wat hulle pa of ma of oupa of ouma gebruik het. Tog is ʼn vertaling nie die oorspronklike nie maar as dit goed vertaal is, baie naby daaraan. Daar is mense wat sê dat die Griekse vertaling wat by Alexandrië gemaak is ʼn outentieke teks daarstel wat langs die Hebreeus is omdat daar twee Bybelse vorme die rondte gedoen het. Die Griekse vertaling se Hebreeus was dan kwansuis beter, of anders, as die een waarmee ons Bybels in moderne tye vertaal is. Die persoon wat so praat moet nie alles glo wat geleerde professore by vername Universiteite sê nie. Dit is in die hart van die mens om nie teen die populêre strome van ons eie tyd te skop nie. Niemand wil uit wees nie en dit is hoe skeefheid gekanoniseer word tot belangrikheid. Die Griekse vertaling wat ons die Septuagint noem, in die vorm wat dit vir ons bewaar is deur Christene, is so vol afwykinge: glipse van die hand, van die tong, van die oog, van die oor en laastens van die geheue. Hierdie glipse is menslik en mens moet onthou die eeue om Christus was nie maklik gewees nie. Reeds toe die oorspronklike Griekse vertaling by Alexandrië gemaak was, het die Ptolemeërs dinastie boeke van skepe op beslag gelê en gekopieer en dan die oorspronklike behou vir hulle biblioteek in die stad en die afskrif vir die skip gegee. Toe die 70 plus Rabbyne van Jerusalem na Alexandrië gekom het om die Hebreeus in Grieks te vertaal was hulle waarskynlik baie letterlik en meer letterlik as dié kopieë wat vir ons behoue gebly het in die prag-uitgawes van Brooke-Macleans, Ralphs, en die Göttingen uitgawes. Hierdie uitgawes is nie die oorspronklike Grieks wat die Rabbyne vir die Ptolemeërs gaan vertaal het nie. Hoe weet ons dit? Dit is ʼn storie insigself. Ons het nie enige manuskripte voor Christus in Grieks van die vertaling nie, nie die een wat in Christen hande beware gebly het nie. Manuskripte dateer almal twee honderd jaar na Christus en later en elke manuskrip verskil van die ander. Daar is nie een Griekse manuskrip wat met ʼn ander ooreenkom 100% nie. Dit is altyd so 85% of 90%. Hierdie prag-uitgawes van die Grieks is maar net ʼn moderne poging om te kyk of hulle nie naby die oorspronklike kan kom nie. Die uitgewer van die jongste prag-uitgawe maak dit duidelik in die Boek Genesis dat hy nie onder die illusie verkeer dat hy die oorspronklike daargestel het nie. Baie wyse woorde, want hy het nie. Daar was egter ʼn ontdekking van manuskripte in Hebreeus en Grieks gemaak by die Dooie See en wat bekend is onder geleerdes as die Dooie See Rolle. Hulle dateer tot ongeveer dieselfde tyd as die Ptolemeërs. Dit is ʼn baie nuttige vonds. Maar ons sit met probleme, dat dit baie fragmentaries is. Net brok-stukke. Tog is daar raakpunte aan te toon in sekere Hebreeuse manuskripte daar en die Septuagint onder Christen hande later. En die lesings verskil van die Bybel se Hebreeuse manuskripte waarmee ons Bybel vertaal is. Hoe nou gemaak? Is daar dan regtig twee Hebreeuse vorme, ʼn lange en ʼn korte in daardie tyd van die Ptolemeërs? Die antwoord is nee. Dit is nou wel die populȇre tendens siening dat daar meer as een vorm was, maar dit is nie korrek nie. Die bewyse lê in die Dooie See Rolle self. Eerstens is daar Griekse Dooie See Rolle van Levitikus en Numeri wat gladnie ooreenkom met die latere Christen bewaarde “Griekse Teks” nie. Inteendeel, navorsers is dit eens dat dié Griekse tekste eerder letterlik die Hebreeus weerspieël waarvan ons moderne vertalings gemaak is. Tweedens is daar Daniel fragmente uit grot vier by die Dooie See, wat met ons Hebreeuse manuskrip waarvan ons moderne vertalings gemaak is, 99% ooreenkom. ʼn Geweldige hoë persentasie wat nie ongesiens gelaat mag word nie. Die verbasende feit is dat ons Hebreeuse manuskrip waarvan ons moderne vertalings gemaak is, dateer uit die jaar 1008 na Christus! Dit is dus meer as 1200 jaar en ʼn verbasende akkuraatheid. Ons kan dus nie anders as om te sê dat die Griekse fragmente van Levitikus en Numeri by die Dooie See, die fragmente van Daniel uit grot vier en die 1008 na Christus Hebreeuse manuskrip bewyse is van Joodse akkurate afskryfmetodes nie. Met so ʼn hegte verband wat geensins bestaan in enige ander vertaling se manuskripte of fragmente in later tye nie, insluitende die prag-uitgawe in Grieks in moderne tye, kan mens net sê dat die Gees van God het seker gemaak die oorspronklike Woord van God het behoue gebly vir ons deur al die eeue.

Wat maak ons nou met die prag-uitgawes? Weereens maklik om te verstaan. Die hoofde van die biblioteek van Alexandrië het sedert die Ptolemeërs se boekstelery van skepe, verswak in hulle afskryf-metodes. Twee Grieke uit daardie tyd ontmoet in Pella in Oos-Jordaan en die een vra die ander waar hy ʼn goeie uitgawe van Homeros kan kry en die een uit Alexandrië antwoord, “solank dit net die een van die huidiges is wat in omloop is nie”. Toe Antiogus Epifanes in 164 voor Christus aan bewind was, het die biblioteekk se afskryf metodiekk tot laagtes gedaal. Hulle het die Griekse werke van Homeros verkort, invoegsels gemaak, gewysig en dit laat mens vra of die korrupsie in die teks wat in Homeros ingesluip het, nie ook in die Griekse Teks van die Bybel daar ingeglip het nie? Is die Christen bewaarde Griekse Teks nie net een van die “verwerkte” uitgawes van Alexandrië nie en dat dit die rede is waarom daar so baie verskille is tussen die Grieks van die prag-uitgawes en die Grieks van Grot 4 by die Dooie See van Levitikus en Numeri? Die groot kodekse soos Vatikanus, Alexandrinus en Sinaitikus wat gebruik word om die ruggraat van die Griekse prag-uitgawe te vorm in moderne tye, is waarskynlik reste van die 50 Griekse Ou Testamente wat Keiser Konstantyn in 350 na Christus beveel het om “so gou as moontlik afskrifte van gemaak moet word”. Gou? Geen wonder daar is so baie afskryf-foute nie. Reeds ongeveer ʼn honderd jaar voor Konstantyn het Origenes vir Afrikanus geskryf en gesê dat hy opmerk dat daar probleme is met die Griekse teks wat die Christene gebruik, veral in Ester en Daniel en ook Job. Hy noem ook Jeremia, Eksodus en ook Genesis. Hy stel toe voor aan Afrikanus dat die kerk die boeke opsy moet skuif en die Jode moet vlei en oortuig om hulle kopieë te gee wat onaangetas en vry van klugspel is. Dit is nie maar net skeptiese gedagtes wat voorgestoot word hier nie of vooroordele wat ons probeer aanwend nie. Die Romeine se vervolging van die Jode, hulle biblioteekk diefstalle, hulle verbranding van heilige boeke het dit moeilik gemaak om goeie oorspronklike afskrifte te bekom. Dikwels was Romeins gesteelde dokumente in publieke biblioteke gememoriseer en dan deur oorvertelling afgeskryf deur een wat geluister het. Baie foute het ingeglip in die Christen Griekse werkswyse.

So wanneer ons soek na ʼn teks vir Job, sal dit nie ʼn vertaling wees nie, Grieks of Aramees, of Siries, of Kopties, of Etiopies, of Armeens of Latyns, of Arabies nie. Dit sal die Hebreeus wees van 1008 na Christus as die waaragtige Woord van God vir ons bewaar deur die werking van die Gees van God. Al die bovermelde vertalings is slegs afgeleide of sekondêre bronne, gevul met probleme, leesfoute, gehoorfoute, geheue-foute, verkortings, verlengings, en alhoewel dit soms selfs met ʼn Hebreeuse lesing by die Dooie See ooreenkom, dateer daardie Hebreeuse manuskrip gelyklopend met die na-Antiogus Epifanus tyd van die biblioteek van Alexandrië toe Homerus se werke liederlik verkrag was.