Kan nie ophou praat

(Koot van Wyk 18 Maart 2016)

Here, deur die trane swem the Skriftuurwoorde

En die knop in my keel en neus wat loop

En slukkend kom die woorde uit:

“Ek moet met julle praat oor ‘Verlossing’

Slegs in twintig minute”

Terwyl ek nie wil ophou praat nie.

 

Hoe kan ek ophou praat

as daar van omslag tot omslag

my hart gryp en probeer trek uit my gejaagdheid

my eie denke, my rondspringende flitse van onthou

Al die kortstondige gelukkige momente wat die wêreld bied

Met n prys van nyd, en haat, en sug, en self-ontevredenheid

 

Maar Gees en Christus en God gryp deur elke hoofstuk

my windverwaaide hemp en pluk my terug

Op my kniee waar ek hoort om op te kyk

na die Evangelies beskrywende kruis-

“Jesus, al het almal u verlaat –

Ek gaan nie”

 

Nou skyn die strale van verlossing van die Skrif

ook in my hart en elke bladsy gloei

En ek praat en wil nog praat en nog -

Maar die selfoon alarms

gryp die horendes en jaag hulle uit die kerk -

En tensy ek vir leë banke wil preek

huil my hart dat twintig minute al was.