Een ding kom jy kort

Koot van wyk (DLitt et Phil; ThD)

Besoekende professor

Departement van Liberale Kuns Opvoeding

Kyungpook Nasionale Universiteit

Sangju Kampus

Suid-Korea

Medeaangehegde lektor vir Avondale Kollege

Australië

 

Baie mense gaan die hemel net net mis, het evangelis dr. Barkhuizen eendag gesê. Ds. Danie Steyn het dieselfde gesê vir die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Beide was my gunsteling predikers, een in my eie geloof en die ander vir ʼn kerk wat Sondag hou. Sê ds. Danie Steyn “Dis daardie ma wat met haar swartgeverde oë deur die strate afloop om haar minnaar te vang; die pa wat elke aand besope by die huis aankom, hy ken nie die binnekant van die kerk nie, hy’s bittermin daar; dis daardie lidmate wat vir jou sê: ‘Déur dans is sonde, maar dans self is nie sonde nie’. Ek wil dit vir u reguit stel sodat u nie kan sê die dominee het nie geweet hoe om dit te sê nie. Wanneer jy met jou voete op die dansvloer beweeg dan beweeg jy oppad na die hel en as jy nie jou oë betyds oopmaak nie sal dit te laat wees”. Die Bybel sê daar gaan ʼn geween wees en ʼn gekners van tande. Mense gaan verlore wees omdat hulle dit net net nie gemaak het nie. Een ding het hulle kortgekom.

Ek het dikwels in die Bybel gelees van die konings van Israel en Juda. Van hulle was hervomers en dan het hulle allerande goeie dinge vir die Here gedoen en vir die volk en vir die tempel en godsdiens. Maar dan is daar een vers net voor dit sê hoe hy gesterf het, dat ongelukkig het hy nie al die afgode verwyder nie. Tragies. Dit was Jotam. “En hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here. . . slegs die hoë plekke was nie weggeneem nie, mense het steeds geoffer en wierook gebrand op die hoë plekke” (2 Konings 15:34-35). Hierdie was ʼn koning gewees. Die verwagting is hoër van God as ʼn persoon die mantel van God dra en op sy doktorsgraad is drie Anglikaanse kruise. Hy ken die Woord van God, hy weet die Weg, hy ken dit. Hy verstaan God. Hy begryp die Verlossingsplan, maar soos Petrus is hy bereid om op een na, homself te verkoop aan die Satan.

Ek het altyd vir myself gevra, wat is die Ashera afgode wat so populêr in Israel was? Sy was die godin van seks of vrugbaarheid en haar beeld het menigte vroue-borste op gehad. Israel kon nie wegbly van hierdie Ashera nie. Dan het hulle hervorm en was toonbeeldig en kort voor lank, het hulle tougestaan by hoogtes of tempels of piekniek-plekke om te speel met die naakte. Die kombinasie van vorm, begeerte, beeld en verbeelding, kreatiwiteit en al hulle menslike wense, ook hulle tekortkominge wat hulle dryf in hul wense, het gemaak dat hulle skoot vir skoot weer tougestaan het.

Totdat ons, my vroutjie en ek in ʼn hotel afgekom het op die pienk kanaal van die TV. Dit is die kanaal wat die moderne Ashera is. Die doel is om die hotel bewoner te laat “aanskakel” in dinge wat onder die belt is. Maar hierdie kanaal plaas wolke om die brein en verdoof die verstand, om die woorde van ʼn moderne profeet te gebruik. Ons spring daaroor en kyk nie daarna nie. Soms gly mens stadiger daaroor as wat dit moet. En dit is hier waar ek vir myself sê “Koot, jy moet kies. Ashera of God maar jy kan nie altwee kry nie”. Heiligmaking vir my moet beteken dat daardie pienk kanaal afgeblok is by die hotel-personeel voordat mens die kamer instap. En dit is die voorneme wat ek vir myself gemaak het. Ek sal reël by die hotel admin om die kanaal te stop vir ons kamer sodat ek gladnie daarmee bemoei sal wees nie. Ons moet in ons lewens op die plek kom waar ons diep krap om te sien wat sal maak dat ons die koninkryk van God net-net sal mis.

Dr. Gerhard van Wyk het gesê: “Wat van die kruis afgedrup het is nie heuning nie, dis bloed”. Dit help nie vir ons om net heuning te smeer en suigstokkies uit te deel nie, die waarheid is dat ek in myself moet soek vir dit wat ʼn afgod skep tussen my en God. God is heilig en kan nie kompromeer met die sonde nie. Dis óf God óf die sonde maar dit kan nie albei wees nie.

Daar is lidmate in ons moderne samesyn wat sê: “Maar Koot, jou definisie van sonde is nie korrek nie. Alles is relatief en nie absoluut nie. Die Bybel is ʼn geslote boek vir toentertyd se samelewing.” Dit is wat húlle dink maar ek moet dink vir myself. Die Bybel is vir my die enigste navigasie instrument na my kans op die ewige lewe. En ek wil die ewige lewe beërwe, ongeag wat. Die Bybel is absoluut en onveranderlik en van toepassing vandag en relevant. Die problem is nie die Bybel nie maar die oppervlakkige lesers van die Bybel. Hulle sink nie diep genoeg nie.

Ek was verstom om te sien hoe die Here nou die dag my sonde vir my uitspel in die Bybel. En nie net naastenby nie, of in afleiding nie. Direk. Ek het dit gelees en in die middel van die nag wakkergeskrik en gesê: waar het ek dit gelees want dit is ek. Ek het later begin bid dat die Here my weer na die vers moet lei want ek móét erns met my sonde maak anders is ek ook een wat die koninkryk net-net mis. Wat ʼn vreugde was dit vir my gewees toe ek dit weer raakgeloop het. So glo ek daar is vir elkeen hul sonde opgeteken in die Bybel. Soek dit. Lees dit. Maak werk daarmee.

 

Liewe Heer

Ook op my. Plaas U Gees ook op my. Die Gees lei ons na ons sonde en help ons om die weg te baan deur dit te ontsnap. Dankie daarvoor. In Jesus Naam, Amen.