Job: Die Vertaling

Koot van Wyk (DLitt et Phil; ThD) Besoekende Professor, Departement van Liberale Kunste Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju Kampus, Suid-Korea, Medeaangehegde lektor by Avondale Kollege, Australië

 

Dit klink asof alles opgelos is as mens net ʼn goeie vertaling kan gryp en aandag daaraan skenk, maar dit is nie so eenvoudig nie. Vertaling is vertolking want mens sien die woorde in ʼn ander taal ingeryg in ʼn sin wat dan strook met sinne in mens se eie taal. As die vertaling mens se eie taal seermaak soms, dan is dit ʼn letterlike vertaling maar as dit al te fraai in mens se eie taal gewoord is, is dit eerder ʼn parafrase. Die Targoem was ʼn vertaling in Aramees en was soms net ʼn parafrase. Soms was dit baie letterlik. In die meeste gevalle van die vertaling van die Bybel, soos byvoorbeeld in die Ou Afrikaanse 1953 vertaling, was dit letterlik. Dit is dus betroubaar om as God’s Woord gevolg te word. In die meeste Bybel boeke. Die boek Job is egter ʼn uitsondering. Dit is nie omdat die vertalers nie goeie vertalers was nie. Dit is nie omdat klippe gegooi kan word teen die Afrikaanse vertaling nie. Die probleem lê met die vreemde woorde in die Hebreeus wat ons in Job vind. Daar is baie woorde in die Hebreeus van Job wat net een keer in die Bybel voorkom. Hoe nou gemaak? Waar kry mens die inhoud of data om binne in die woord-beker te gooi om dit verstaanbaar te maak? Hier lê die kern van die probleem en hier vind mens ook die sleutel tot die oopmaak van die probleem. Daar is so baie van die eenmalige woorde in Job dat as mens nie weet wat hulle beteken nie, kan dit leemtes laat in mens se vertaling. En dit het. Wat gereken word onder moderne geleerdes as die beste kommentaar op Job, was skynbaar geskrywe in 1926 deur E. Dhorme. As mens sy kommentaar besit kan mens sien hoekom hy as die grootste kommentator gesien word op Job. Tog slaan hy menige keer in die boek sy hande saam, omdat hy nie weet wat die Hebreeus beteken nie en dus nie die sin kon vertaal nie! As hy nie weet nie, hoe moet enige iemand anders weet? Maar, ons kan weet. Iemand het my gevra waar sy ʼn goeie kommentaar op Job kan kry en kan regtig nie antwoord nie. Daar is nie ʼn goeie kommentaar nie. Hoekom nie? Omdat mense nie die vreemdwoorde van Job verstaan het nie. Wat moet ons nou doen met die vreemdwoorde van Job?

Dit is hier waar die oplossing lê. Die Rabbyne en ʼn vroutjie in 1900 het gevoel dat Moses die boek Job geskryf het. As hulle reg is, dan moet ons aanvaar dat Moses die boek geskryf het in Midian toe hy weggehardloop het uit Egipte na 1490 voor Christus. Moses het baie tale gepraat, Hebreeus van sy ma tussen 1530 tot 1518 voor Christus en in die paleis van Hatshepsut het hy Egipties gestudeer en dus as ons die sleutel soek tot die vreemdwoorde is dit in Middel Egipties. Toe die Grieks vertaal was deur die Ptolemeërs was Egipties as grammatikale taal reeds dood. Kopties het dit behoue laat bly gedeeltelik maar helfte van die woorde was reeds Grieks. Niemand het daaraan gedink dat Moses ʼn Egiptiese woord geneem het en dit verhebreeus het nie sodat die Egiptiese betekenis ʼn Hebreeuse voorkoms gehad het nie. Die taal was dood selfs toe die Rabbyne vertaal het in die Middel-eeue en hulle moes ander tale gebruik. Eers in die dae van Napoleon het hulle die Egipties ontsyfer met die Rosetta Steen en toe kon hulle Egipties gebruik om Moses te verstaan. Maar, ongelukkig het Satan sy makers gereed gehad want die verwerpers van inspirasie het die Bybel uitmekaar getrek en manne soos Julius Wellhausen het Moses met die badwater by die venster uitgegooi. Job is nie deur Moses geskryf nie maar is laat. Toe hulle wel met die sleutel in die hand staan in 1860’s toe sien hulle nie meer Moses as die skrywer nie en ook nie die rede om Egipties te gebruik om vreemdwoorde in Job te ondersoek nie. Tot vandag toe volg die meeste seminarieë in die wêreld die idees van Wellhausen en weier om te sê dat Moses Job geskryf het. Wel, dan moet hulle dit maar dink en sê. “Ek en my huis, ons sal die Here dien”. Daarom sal Egipties gebruik word as ʼn sleutel in die kommentaar op Job. Die Rabbyne het nie Egipties gehad nie anders het hulle dit seker gebruik. Hulle het geleef in die tyd toe Arabies van Mohammed die lingua franca was. Dit was die wêreld-taal. Dit was die taal van die literatuur. Die Hebreeuse vreemdwoorde was dus deur die Rabbyne met Arabies verklaar. Maar, vra ons behoudend hier: hoe kan Mohammed se taal vir Moses verklaar meer as 2000 jaar tevore? In Middel Engels in die dae van Shakespear was “gay” oulik maar vandag hardloop alle mans daarvan weg. En dit is maar net 550 jaar! Daarom skiet alle vertalings van Job tekort. Daarom is ʼn vars vertaling nodig om aan die vreemdwoorde hul regmatige plek in die sinvolheid van Job te gee.  

Ongelukkig het die meeste moderne vertalings geleun op die Arabiese betekenisse wat deur die Rabbyne in die Middel Eeue aan Job gegee is en dus kan ons sien hoekom daar nie ʼn goeie kommentaar bestaan oor Job nie. Dit is nie hoe goed is die vertaler se Hebreeus nie, dit is hoe korrek is sy metodiek van vertaling.