Job: Moses

Koot van wyk (DLitt et Phil; ThD) Besoekende Professor, Departement van Liberale Kunste Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju Kampus, Suid-Korea, Medeaangehegde lektor vir Avondale Kollege, Australië

 

Een van my professore van gistertyd het vir my gesê onlangs dat hy dink die boek Job is moeilik omdat dit die eerste boek was wat geskryf is. Hy het ons kanon in gedagte en dit is waar. Job het Moses geskryf terwyl hy in Midian weggekruip het van Thutmosis III wat hom oral gesoek het en 16 veldtogte in Sirië onderneem het. Thutmosis III het nie net gehou van veg nie, Moses was ʼn lewensbedreiging vir hom. Thutmosis III was die seun van die man van Hatshepsut maar by ʼn straatvrou met die naam Iset. Die skandaal in die paleis het byna hulle huwelik op die rotse gehad. Sy het Thutmosis III gehaat en toe die baba paleis toe gekom het, was dit Hatshepsut se moeder Amosis wat haar oor hom ontferm het. Dit was die tyd toe die 12 jarige Moses van sy moeder gekom het en ook by die paleis familie aangesluit het. Skynbaar sou Hatsheptsut sielkundige gehegtheid by Moses gevind het as teenpool vir die baba van haar man. Die driehoek van wegbewegende haat en voortrekkende liefde sou deur die jare Moses as bedreiging vir Thutmosis III stel. Thutmosis III het later Hatshepsut gehaat en skynbaar Moses ook want Thutmosis III het nie blou bloed gehad nie, hy was onwettig maar Hatshepsut het. Toe Moses dus in 1490 voor Christus die Egiptenaar doodgeslaan het, het dit ʼn regmatige voordeel vir Thutmosis III ingehou om hom uit te roei, as hy hom kon vind. Maar hy het nie. God het hom weggesteek in Midian. Moderne argeoloë soos William Albright en die Egiptoloog Kenneth Kitchen het gedink Ramses II was die Farao van Moses maar dit is 200 jaar te kort. Dit is om die Franse Rewolusie in die tyd van die Tweede Wêreld Oorlog te soek. Die Hebreeuse teks sê dat dit 400 jaar voor Salomo was (1 Konings 6:1-4) maar die Griekse vertaling van die praguitgawes uit Christen hande het die foutiewe halvering van die 400 jaar na 200. Net om in te pas by die woorde dat die stede van Pitom en Ramses gebou was. Die kronologie van die Bybel is té akkuraat om verander of geignoreer te word. Veral Albright moes dit geweet het. Daarom verskil Siegfried Horn, die student van Albright met hom oor die saak en hou by die 400 jaar tot op Thutmosis III vir die tyd van Moses. Selfs die liberale argeoloog N. K. Gottwald het verklaar dat as die tyd vir Moses gesoek word op Bybelse gronde, dan moet dit in Thumosis III se dae geplaas word. Selfs al het hulle die volgende farao na Thutmosis III gesien, ʼn siening wat sy eie probleme het, is dit nog 400 jaar en nie 200 jaar voor Salomo nie. Mens kan nie die teks van die Bybel verander net omdat mens gemakliker wil dink nie.

Moses het ʼn goeie opleiding gehad in die Paleis. Dit wil voorkom of die Egiptiese astronoom Senenmut die onderwyser was van Moses en Moses het ʼn moderne siening gehad van kosmologie of die sonne-stelsel. Moses weet dat die sewester of Pleiades deur nebula verbind is wat nie sonder ʼn teleskoop gesien kan word nie. Hy weet dat die aarde opgehang is aan niks en dus nie staan op pilare nie soos sommige dit wil sien. Moses se Biologie, Dierkunde en Mynbedryfkunde is van ʼn hoë standaard. Dit word gou duidelik as mens die boek Job bestudeer. Moses het waarskynlik ʼn goeie kennis gehad van Egipties, Akkadies en dan natuurlik ook Hebreeus. Hy was bedrewe in die hof protokol van die paleis en die boek Job is gegiet in ʼn hof agtergrond. Job het alles verloor en sy geloof behou en dit was die stryd vir Moses wat ook alles verloor het en sy geloof moes behou. Die skrywe van die boek Job was waarskynlik vir Moses ʼn aanmoediging. Die boek Genesis en Psalm 90 sou ook volg. Gewis is die boek Job die moeilikste boek in die Hebreeuse literatuur. Maar dit is omdat die skrywer hoogs geleerd was en ʼn man van insigte.