Geestesversteurde begryp die Liefde van God

Koot van Wyk (DLitt et Phil; ThD)

Ons is baie vinnig om iemand wat met ons verskil te beskryf as ‘iemand wie se skroef los is’. Dikwels is die skroef los aan albei kante van die vinger wat gewys word. Dan is daar gevalle waar daar géén skroewe los is nie maar die eie-ek en self-trots gryp om die wesens-naaktheid met die blare van eer, rykdom, aanplaksels, toonbeeldigheid, fatsoenlikheid, beïndrukking, en sommer nog ʼn rits soortgelykes, te probeer toehou. Ag ons wil maar nou net nie sleg lyk voor ander nie. Wat gaan almal van ons dink? Ja, dit is óók waar, dat mens nie alles net altyd uithang nie. Maar ons praat hier van twis en vingerwysing: één vinger na die ander en drie terug. Ai, sies tog.

Maar dan is daar skroewe wat rêrig los is. Iets het gebeur in die persoon se lewe en die trollie het van die spoor gehardloop. Hy of sy beland in ʼn gestig en word “aangehou” dikwels tot hul dood. En dít is wat gebeur het met die volgende persoon. Hy was in ʼn gestig vir kranksinnige behandeling. Die skroef was régtig los. Of so het almal gedink. Álmal, behalwe God. God was die énigste Een in die kranksinnige se lewe. En die dag toe hy sy asem uitblaas en die staf sy liggaam op die trollies kom laai, toe sien hulle die volgende woorde op die muur:

 “Selfs al kan ons met ink die oseaan vul

En was die uitspansel van perkament gemaak -

Was elke takkie op aarde ʼn skrywers-veer

En elke persoon ʼn skywer in beroep -

Om die Liefde van God te skryf daarbo

Sal die oseaan drein tot dit droog is

Nóg kan die perkamentrol die geheel insluit

Al strek dit van uitspansel tot uitspansel.”

 

Rabbi Hertz, vertel Ben Glanzer so mooi in sy artikel in die Ministry volume 23 no. 9 (1950), het in sy boek ʼn Boek van Joodse Denke geskryf dat die gedig geskryf is in 1050 deur Rabbi Meir Ben Isaac Nehorai. Die kranksinnige het die gedig geken en in sy nood was dít sy grootste insig. Dit is al insig wat hy nog oorgehad het. Dit is al insig wat hy eintlik benodig het. Dit is al insig wat ons welliswaar benodig.

Bron: Die lied van F. M. Lehman in 1917 het twee stanzas bygevoeg tot die woorde en die woorde is die titel gegee: “The Love of God”. Sy dogter het die musiek gekomponeer.