Toe klap hy die predikant . . . . .


Koot van Wyk (DLitt et Phil; ThD) Besoekende Professor, Departement van Bevrydende Opvoeding, Kyungpook Nasionale Universiteit, Sangju Kampus, Suid-Korea, Medeaangehegde lektor by Avondale Kollege, Australië


Net nadat die predikant die Waarheid van God met die gemeente gedeel het, hulle vertel het van hul sonde, van hul agterbaksheid met God, hul minagting van die Wet van God, hul skewe denke met betrekking tot elke aspek van die daaglikse lewe, toe slaan die liberale predikant hom met sy oop hand deur die gesig dat die man van God agteruit steier en op sy hurke gaan sit.

Wie het die vermetelheid om sy hand te lig vir die mense van God? Toe Jeremia by sy positiewe kom, toe staan hy op en die Here gee hom ʼn boodskap vir leraar Pashur. Hulle het in die kerk van God gestaan toe hy hom geslaan het. Wie sal sy hand lig in die kerk van God en dit teen die gesalfde dienskneg van die Here? Maar dit gebeur gereeld tot in ons eie dag! Pashur het fisies sy hand gebruik en die fisiese liggaam van Jeremia aangerand. Maar daar is ook die emosionele aanranding waarvan Jesus gepraat het. En dit gebeur in die kerk. Die meeste aanranding vind plaas in die kerk, ironies genoeg. Terwyl die Gees van God Homself terdeë geniet met die gemeenskap met die gelowige in die Huis van God, is daar skielik ʼn skuiwing van omstandighede, ʼn dinamiek van ʼn anderste duiwel en wit word swart, oranje word bruin, pienk word rooi en blou word pers. Met oë wat rol en stemme wat fluister terwyl hulle rondkyk of iemand nie hoor nie, is daar indirekte uitlatings, een sin opsomminge, stereotipering, onskuldige humoristiese grappies en siedaar, elkeen neem deel in die giggelende klapping van die man van God. Dit is soos die beeldhouer wat kerf met sy beitel aan ʼn klip om daarvan ʼn beeld te maak, ʼn mens. Elke kerf tel en vorm die mens. So neem die kerwings van die tonge in die kerk deel aan ʼn torring van ʼn mens totdat ʼn monster langsamerhand voortkom. En wie wil ʼn monster vir ʼn predikant he?

Pashur was die hoof-offisier in die kerk van die Here. ʼn Gesiene man. Dr. Eilat Mazar en sy span het sy seun se seël gevind in die Stad van Dawid opgrawinge in Jerusalem. Sy seun was Gedaljah. Sy naam verskyn ook daarop “Gedaljah die seun van Pashur”. Al die letters verskyn in die tweede register van die seel met slegs die ‘a’ nie daar nie. So hierdie skrywe van Jeremia in Jeremia hoofstuk 20 is nie sommer gissinge nie. Dit het werklik gebeur. Waneer die kerk deur woorde ʼn netwerk van verhoudinge oprig dan skep hulle ʼn instrument, ʼn gevlegde sweep wat die predikant deur die gesig klap en nie net een klap soos Pashur nie, maar weer en weer elke keer as een grinnik of “regtig?” of na die asem snak. Hoe kan ons dit waag om ons hand te lig teen die gesalfde van die Here? Dikwels gaan dit om iets wat ʼn nietigheid is want slegs as daar ʼn morele wet oortree is, ʼn algehele luiheid of ernstige voortdurende versuiming is om sy plig te doen, is aksie deur een of twee in hoë kringe naby die predikant nodig om hom met raad te bedien. Maar nie ʼn los rondpratery nie.

Een gemeente wat ons bygewoon het, het een aand hul hand vir die leraar gelig met strenge woorde. Ook ʼn saak van nietigheid. Die predikant was ʼn gesiene oudste. Afgetrede predikant met jare getroue diens. Maar die lidmate het die Sabbat gebreek. In een geval toegelaat dat ʼn ouderling en diaken met n tipe geldverduistering omgaan, en ons het dit stopgesit. My vroutjie en ek is ook gesalfdes van die Here alhoewel die mantel van die bediening nie om ons skouers geval het nie. Ons dra tóg daardie verantwoordelikheid, ongeag roeping of nie roeping. Daar is ʼn innerlike roeping van die Here. Maar daardie aand was ons nie daar nie. Een diaken het geskree vir die predikant dat hy moet doen wat hy gese het hy sal doen: gaan. Toe ons terugkom van die stad het ons besluit dat ons ook gaan skuif. En ons het. Ons is na die berge toe waar ʼn pragtige “Heidi” kerkie is, die Switserland van Korea, en daar het ons begin aanbid met net vier mense in die kerk. Vandag is ons sewe en ons het die gelukkigste tyd van ons lewe met die gelowiges.

Die straf van Pashur was erg. Hy sou al sy vriende en die wat hy geken het sien doodgesteek word voor sy oë. Dieselfde met die gemeente wat ons verlaat het. Een vir een het die gelowiges geskuif na ander gemeentes toe. Nou is daar net die bende-nes oor en hul huil op mekaar se skouers vir die maerte wat in die kerkbywoning gekom het. Maar dit is hul straf want God laat Hom nie bespot nie en niemand raak die gesalfde van God aan ongestraft nie

Liewe Here

Gryp u gemeente terug van die ongehoorsames want dit behoort aan U en nie aan hulle nie. In Jesus Naam. Amen.